TYGERBERG SECTION – BERGNUUS

December 2001 – January 2002

THE WEBMASTER HAS BEEN DRINKING AGAIN. THIS IS JUST A DRAFT VERSION (THE SAME AS THE EMAIL ONE) – WILL TRY TO GET THE REAL ONE UP IN A DAY OR SO...

 

In this email we send you an ugly, lean-and-mean version of the contents of this newsletter. It is in bare text format, without any formatting graphics or photos, so that everybody can read it and the download time is kept to the minimum.

 

If you are not technologically disadvantaged, rather click on the link above!

 

 

INHOUD - CONTENTS

==========================================

1 ALGEMEEN - GENERAL

 

2 AFGELOPE AKTIWITEITE - PAST ACTIVITIES

 

3 KOMENDE AKTIWITEITE - COMING ACTIVITIES

 

4 ANDER AFDELINGS SE NUUS - NEWS FROM OTHER SECTIONS

 

=====================

1 ALGEMEEN - GENERAL

=====================

 

_______________________________________________________

1.1 JAARVERGADERING 2 MAART!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!

    DU TOITSKLOOFHUT

-------------------------------------------------------

Ons sit die tradisie voort met die jaarvergadering Saterdagmiddag om 18:00 gevolg deur 'n gesellige braai. Sondag is daar 'n keuse van staptogte na Elandskloof, Kromrivier of Du Toitspiek. As gevolg van die gewysigde permitstelsel is getalle beperk.  Skakel dus vroegtydig  vir Gerrit Kritzinger om jou plek te verseker en teleurstelling te voorkom.  Onthou om jul eie braaihout saam te bring.

 

Ons wil graag die Kaapse Afdeling behulpsaam wees met die instandhouding van die hut en het dus 'n werksdag gereël vir Saterdag vanaf 09:00 tot en met die vergadering om so ons waardering te toon vir die gebruik van die hut. Skakel asseblief vir Gerrit Kritzinger by 021-9193736 vir besonderhede.

 

Neem ook asseblief kennis van die volgende reëlings wat streng nagekom moet word om te verseker dat ons Afdeling in die toekoms steeds die voorreg kan geniet om die hut te gebruik. Die hek  mag onder geen omstandighede oopgelaat word nie. Daar mag ook nie oor die heining of die hek geklim word nie. 'n Nommerslot met nommer 1246 sal vir die naweek aangebring word sodat lede toegang kan geniet.

 

SAKELYS VAN 'N ALGEMENE JAARVERGADERING VAN DIE BKSA, AFDELING TYGERBERG,  GEHOU TE WORD OP SATERDAG 2 MAART 2002 OM 18H00 IN DIE DU TOITSKLOOFHUT

 

1.      Verwelkoming.

2.    Notule van die vorige vergadering.

3.    Sake voortvloeiend.

4.      Jaarverslag.

5.      Finansiële verslag.

6.      Verhoging van ledegeld

7.      Verkiesing van 'n voorsitter.

8.      Verkiesing van 7 bestuurslede.

9.      Algemeen

 

_______________________________________________________

1.2 Ledegeld 2002

-------------------------------------------------------

 

Aangesien ledegeld slegs tydens 'n algemene jaarvergadering verhoog kan word en ons volgende Algemene Jaarvergadering verskuif is na Maart 2002, kan lede hulle lidmaatskap vir 2002 teen die huidige tariewe bekom deur te betaal voor die jaarvergadering in Maart.

 

Lede wat na die jaarvergadering betaal, loop die risiko dat die ledegeld verhoog kan word en hulle sal dan die verhoogde ledegeld moet betaal.

 

Die ledegeld is tans soos volg:

 

Getroude pare:      R100

Enkel lede:         R65

Junior lede:        R20

Voornemende lede:   R40

 

Die 2002 plakker word aan julle gepos sodra die ledegeld ontvang is.

 

_______________________________________________________

1.3 Donasies

-------------------------------------------------------

 

Maretha Kruger

Niel de Villiers

Lynette Smit

Dainty Meyer

Deryck Archer

Johan & Elmien Botha

Pieter & Marie-Lena de Beer

Ralph & Glenda Raad

Judith Phillips

Salmon Beneke

Dennis Lange

Christo Dippenaar

 

_______________________________________________________

1.4  Nuwe en voornemende lede

-------------------------------------------------------

Welkom aan ons nuwe lede:

 Franclo Henning

 Jean Pool

 Karel Pretorius

 Godfree Gert

 

En die voornemende lid:    Erica Fourie

 

 

_______________________________________________________

1.5  "Voyager Miles"

-------------------------------------------------------

A word of thanks to all the people who have submitted their Voyager numbers for the club to benefit from - and this is not to  the detriment of the individual's own Voyager miles accumulation.

 

 At the end of October the club has reached 95% of its minimum target rate of 500 000 and there are another 5 months to go before the end of the financial year! This is really fantastic.

 

The scheme is being run for the members by the members - so thank you to all who are taking part! The benefits of this year's accumulation will become operational after March 2002.

 

 

 

 

========================================

2 AFGELOPE AKTIWITEITE - PAST ACTIVITIES

========================================

 

_______________________________________________________

2.1  Rotsklim  India Giver -- F2       1 Desember 2001

                                deur Jeanne Myburgh

-------------------------------------------------------

 

 

Die weerkantoor voorspel van Woensdag af reënweer vir Saterdag, maar gelukkig is hulle, soos heel dikwels,verkeerd. Barend Nel is die leier en net ek ( Stellenbosch-afdeling ) en Frits ( baie afdelings ) gaan saam. Barend is verkoue met 'n toe neus en ons voel nie een oordadig energiek nie.

 

Ons begin so 08:45 by die kabelstasie en op pad na India Giver beduie Barend vir ons die India Rubber-roete en sy variasie. Dit gee ons kans om elke nou en dan te staan en kyk en rus. Nader aan waar ons klim begin, wys Barend ons roete mooi uit tussen oorhange, kranse van verskillende kleure, 'n oop boek en 'n sny koek. Dit lyk redelik skrikwekkend, veral as jy nie baie lank is nie, want dis 'n ontsettend stewige strek om bokant die sny koek by te kom. 'n Groepie langsaan klim Bombay Duck en klim baie bedagsaam 'n detour omdat daar 'n rooivalkienes met 'n kleintjie in is.

 

Ons klim vier trajekte, almal E2 en dit wissel van "sketchy" na "awkward" na "precarious" en van "finicky" na van balans af. Die blootstelling is gruwelik of asemrowend, afhangende van wat jou ingesteldheid is.

 

Die laaste trajek wat die kruks is, is F2. Eers klim jy 'n moeilike stukkie, dan is daar 'n gladde wand met 'n mikro-trapplekkie en aan die ander kant, op die ander bladsy van die oop boek, het iemand 'n Camalot in 'n skeurtjie gelaat. So 'n Camalot kos nou al R 700, sê David Davies nou die dag. Dit sit al so twee jaar daar, sê Barend. Ek kan dit goed verstaan, want teen die tyd dat jy daar kom, sal min mense nog die krag of die inklinasie hê om dit te probeer uithaal, veral gedagtig aan die beweging wat voorlê.

 

Barend strek sy ook-nie-juis-aansienlike lengte, sover hy kan, gryp met albei hande na die enigste "grip" bokant die sny koek en swaai sy bene op. Nie bra elegant nie, maar heel funksioneel. Dan neem hy plaas op die rots en sit goedgunstiglik met sy rotsklimskoenpunt ( al wat ons van hom kan sien ) wat uitsteek presies waar die vashouplek is. Ons maak dit gelukkig ook en beslis niks meer elegant as die leier nie.

 

Ons klouter verder op, stap oor na die oorkantse krans en abseil. Ons rol die toue op, eet 'n stukkie, stap af en is teen 14:30 onder. Baie dankie, Barend, vir nog 'n besondere klim !

                                                                                                

_______________________________________________________

2.2  Krakadouw         15 - 19  Desember 2001

                   deur Yvonne Truter

 

-------------------------------------------------------

 

Charlie se tydsberekening was op-sy-kop, want ons arriveer almal binne  die bestek van 'n halfuur by "Tolla se Garage" in Vanrhynsdorp. Die  pad na Heuningvlei was baie verder as wat ek kon onthou en die  noenson het alreeds erg gesteek toe ons oor die houtleertjie klim om die   voetheuwels aan te durf.

 

Dwarsdeur die volgende wonderlike vyf dae het koel briese ons gelaaf en  stroompies welkome lekkerwater die gedurige dorstes geles. Saans teen  donker was die lastige wind koud en veral so tydens die skemerkelkuur  die laaste aand bo-op Krakadouw.  Wys my 'n meer vermaaklike plek in  Afrika vir diè doel!

 

Boontjieskloof met sy swemgate - Ek val daar ruensagteroor bene in die  lug tussen die diep bosse in vanaf my wankelrige klip net nadat ek klaar  gekook het. Niemand sien niks nie!

 

Charlie loop mos nooit vir baie lank op 'n voetpad nie. So het baie  stappers immers deur die jare al woeste tye saam met hom in ons  gebergtes beleef. Moenie dink diè gewoonte gaan end kry wanneer diè  man sy "jare" bereik nie. Aikona! Seun Ryno is, figuurlik gesproke,  ast'ware bo-op die hoogste rots in die wildernis gebore en gaan nog  heelwaaarskynlik ook diep spore trap in die Bergklub en nes sy pa nog  baie siele laat "suffer".

 

By die Vuurvliegierots geslaap. Ook onder die Skilpadklip oornag. Voor,  tussen en na hierdie oornagplekke het ons geboendoebêsh vir die vale.

 

Ai, die Sederbergse natuurskoon, potsierlike grys rotsformasies,  plantegroei en vér vergesigte gryp mens aan die hart. Al krap al die goeters jou flenters en het mens 'n ewige vrees vir slange.

 

Uiteindelik! Ons praat maar liefs nie van die geswoeg nie, het ons (op die  vierde dag) vir Krakadouwpiek met sy manjifieke oorhang-nagplek bereik.  Ons het ons nie verniet half katswink gedra aan water nie. Daarbo was  nêrens 'n druppel nie. Ek hou nogal beter rigting in die berge as in 'n  stad, maar op die Krakadouw met sy drie eenders geleë bakens en  honderde rotsgange gooi ek handdoek in en loop al in Charlie se  skaduwee nes 'n skoothondjie. Was al drie keer daarbo en nog steeds  het ek nie 'n "clue" nie.

 

Bo-op diè wonderlike berg raak 'n mens net weer bewus van jou  "niksheid" en verganklikheid. Ge-ykte woorde, ja, maar wat is 'n leeftyd  van 70/80/90/ jare as mens jou die honderde-miljoene jare probeer  voorstel wat verby gegaan het met die vorming van diè verbysterende  formasies en diep gange. Water, wind, hitte en koue? Verstommend!

 

Toe Charlie aankondig "mense ons verlaat nou die berg...." stort ek  'n traan of tien.

 

Wil weer soontoe...maar net saam met Charlie....want Charlie  verdwaalie.

 

 

_______________________________________________________

2.3  Jan du Toitskloof: 19 - 20 Januarie 2002

                   deur Glaudina Van Dyk

-------------------------------------------------------

 

 

Gelukkig het Altus besluit dat dit te veel moeite is om met net 4 mense tot by die touleer te stap. Toe kon ons rustig kuier van poel tot poel. Dit het onlangs goed gereën en die rivier is lekker vol. Daarom kon ons ongelukkig ook nie by die glybaan by die oorhangkrans afgly nie, want die water loop te sterk. (Nou is my swembroek darem nog heel!)

 

Sondagoggend het ons eers springmielies geskiet. Daarna is ons in 'n syklofie oorkant die Oorhangrots op om te gaan Nuwejaarsblomme kyk; hulle was ongelukkig uitgeblom. Ons het egter laer af in die kloof 5 baie mooi pienk disas gesien om oor te "oe en aa" en foto's  te neem.

 

Ongevalle: Renier het sy skeen lelik gestamp teen 'n klip. Toe ons bekommerd is oor dit so baie bloei, vra hy ewe kalm vir Dainty: "Hoe lank voor ek leeg is?"

 

 

_______________________________________________________

2.4  Palmietrivier        27 Januarie 2002

                               deur Angelique van Niekerk

-------------------------------------------------------

 

Daar was mos vroeër 'n versoek van party klublede dat daar ook meer stappe op ons program moet wees om vir die lede wat nie die meer uitdagende stappe kan behartig nie, voorsiening te maak. Wel, hier was nou so 'n stappie. (Dit  was nie 'n uittog nie!) Al het die stap nie soveel uitdaging gebied nie, was die natuur net so mooi, die geselskap lekker en die leier net so goed.

 

Dit was, wat natuur betref, eintlik 'n besonderse stap, want dit was in die Kogelberg Natuurarea waar vir etlike jare geen toegang vir die publiek was nie. Nou word die dam nie meer daar gebou nie en mag ons plêbs ook die besonderse plantegroei en natuurskoon van die gebied geniet en bewonder. Ons het toe ook van die plante, wat slegs in die gebied groei, gesien. Hierdie plante was een van die redes waaroor so teen die bou van die dam geskop is.

 

Ons het heerlik in die Palmietrivier geswem en gehang. Die son was maar goed warm en die water 'n lafenis. Dit is ook in hierdie stukkie rivier waar nou ook met kano's "white river rafting" toegelaat word.

 

Dit was in totaal 'n dag vol kos vir die siel en liggaam.

 

_______________________________________________________

2.5  Slanghoek Afgronde 2-3 Februarie 2002

                               deur Dainty Meyer

-------------------------------------------------------

 

'n Subjektiewe belewenis van die Bainskloof na Slanghoekafgronde-stap, of te wel "The Hobbit en 'n Rooi Indiaan in Barcelona".

 

Die beskrywing het gelui:  Bain's Kloof na Slanghoekafgronde.  Gelei deur Gerrit van Zyl.  My vermoede van 'n rustige stap word verder deur Gerrit bevestig:  "Dit is eintlik 'n baie vervelige stap, al langs die Jeep track af", maak hy verskoning.  "Ons kamp onder en stap sonder die sakke op na Slanghoekafgronde."  Dit pas my soos 'n handskoen.

 

Die oggend breek gul en helder aan met Gerrit siek in die bed. 'n Navigasie-komitee, bestaande uit Divvie en Truida word op die been gebring.  Altus lei die stap met geesdrif, sy getroue GPS en die ondersteuning van die komitee.

 

Ons sweet en swem, sweet en swem die steiltes uit.  Dit herinner Divvie aan 'n vorige tog:  "Ek is soos 'n paddavis die steilte bo die afgrond uit.  Ek klou so aan die polle dat ek daai berg skoon bles pluk!"

 

Nes word geskop om 'n groot rotsblok 'n katspoegie van die afgronde af.  Sundowners word soos dit betaam genuttig, terwyl die heks van Heksrivier se profiel bewonder word.

 

Sondagoggend is dit al langs die waterval op, oor die klipplate. Die flambojante rooi "Skeerkwasse" (blomme) inspireer Johan Benkenstein tot blink oë en laterale denke.  Erica sê niks, sy stap lekker.  By die afgronde aangekom, verlaat alle rede die outeur van hierdie skrywe.  Daar is vae herinneringe van nader skuiwe aan die kant plat op die maag, 'n gil of twee of drie uit die murg toe Altus so naderstaan met die kamera:  "Moenie aan my vat nie! Moenie aan my vat nie!"  Claude het bedaard iets genoem van soos 'n geitjie aan die rots vassuig met die afkyk.  Ek verneem dat die res van die geselskap waardering vir die grootsheid gehad het.  Altus en sy bittereinders het daarna die piek aangedurf terwyl die geselsers en Kobus met sy twee jong ribbokke die aftog geblaas het. 

 

Na 'n letterlike slang in die gras, luilekker middagete by 'n poel soos uit 'n storieboek is daar weer swem-swem en sweet-sweet terug gestap.  Die Amstel by die Bainskloof Lodge word met flair bedien deur die drag show-ster wat moonlight as kelnerin.  Die The Hobbit en 'n Rooi Indiaan in Barcelona?  Vat volgende keer 'n 1991 Fair View saam vir sundowners en laat Divvie jou vertel.

 

 

(Ek sal maar bysit waar Dainty uitge"chicken" het.  Die stap na Slanghoekpiek was die moeite werd!  Daar is ongelooflike mooi uitsigte oor die Breëriviervallei, die mooiste rooiste Disas langs talle stroompies, ook die "Klein Afgrond" wat ek verkeerdelik in 1997 as die "Groot Afgrond" leer ken het.  Bo-op Slanghoekpiek het ons verwonderd rondgeloer, foto's geneem - bewyse vir later - en in die droogte-skaduweetjie van die radio-huisie iets geknibbel.  En later die ander verbygesteek waar hulle luilekker langs 'n poel gekuier het.     -Altus)

 

 

 

===========================================

3 KOMENDE AKTIWITEITE - FUTURE ACTIVITIES

===========================================

 

______________________________________________

3.1 Tafelberg rotsklim - Saterdag 23 Feb. 2002

                    -  deur Franclo Henning

----------------------------------------------

 

 

Betowerend. Dis waarskynlik die beste woord om Tafelberg te beskryf. As jy al vergeet het watter stukkie wildernis-paradys hier in ons agterplaas is of jy het nog nooit die voorreg gehad om op 'n rotslysie te sit en oor Kampsbaai uit te kyk met die geklingel van karabiners in die agtergrond nie, is hierdie dag vir jou.

 

Of jy kans sien vir iets soos Arrow Final(E2/E3), iets meer uitdagends soos Jacob's Ladder(F3) of selfs iets soos Roulette(G2/20) of Touch and Go(G2/20), kom saam en ervaar Tafelberg op sy beste terwyl die weer dit nog toelaat. Jy sal nie spyt wees nie! Skakel my by 975 6038 (H) of  082 8726617 (sel). Onthou: Dis "multi-pitch" klimme, so die aantal plekke is beperk.    

 

______________________________________________

3.2 Opleiding naweek, 16 en 17 Februarie 2002

                    -  deur Claude Steenkamp

----------------------------------------------

 

Die Opleidingskomitee van Afdeling Kaapstad bied 'n naweek van opleiding, vir lede, leiers en enigeen wie belangstel om hul berg-ervarings veiliger te maak te Agtertafelberg hut. Items soos berg-ervaring, kos, toerusting, toegang en omgewingskennis sal bespreek word. Kontak Claude vir verdere besonderhede.

 

______________________________________________

3.3 Diens by Maclear se Baken - 24 Februarie 2002

                    -  deur Yvonne Truter

----------------------------------------------

 

As jy belangstel om dié besonderse kerkdiens bo-op Tafelberg by te woon, skakel my by 913 1938.

 

Ons maak dit 'n stesvrye en gemoedelike dag wat almal altyd baie geniet.  Ons sal dalk weer die Skeleton Gorge roete kies net om die boskoelte te ervaar en vroeg vertrek sodat ons die oggend kan geniet.  Die diens begin eers om 12:00.

 

 

______________________________________________

3.4 Du Toitspiek/Kromrivier Sondag 3 Maart 2002

----------------------------------------------

 

As jy nog nie op Du Toitspiek gestaan en wonder het wat jy daar doen nie, kan daar gewonder word op Sondag 3 Maart 2002. Dit is die dag na die Jaarvergadering, as jy al klaar vergeet het. Daar sal ook geswem word by die Kromrivier waterval. Kom gerus na die Jaarvergadering en moet nie bang wees om 'n job te kry nie, want daar is nog nie 'n dienende komiteelid dood op die job nie.

 

______________________________________________

3.5 Perry's Refuge   - 21 Maart 2002

                    -  deur Altus de Wet

----------------------------------------------

 

'n Grootse berg-ervaring:  Ons volg 'n roete deur van die mooiste en mees afgeleë dele van die Heksrivierberge.  Die eerste aand slaap ons by Thomas Hut, trek dan na "Perry's Refuge" oor Fonteintjiesberg.   Die "refuge" is 'n aluminiumstruktuurtjie soos 'n klein tent; en is soos die naam sê, bloot 'n skuiling.  Die volgende dag stap ons via 'n lang dwarsstap redelik rustig na die Univ. Kaapstad Ski-hutte waar ons oorslaap.  Die Sondag (rusdag) stap ons af (so 1000m) tot in die Breëriviervallei waar ons (hopelik) opgelaai sal word.  Groepgrootte beperk tot 8.  Daar is niks moeilik nie, geen afgronde ens.  Dis bloot AANHOU.  Genoeg tyd vir rondkyk en vergaap.  Sien jou daar. 

 

 

______________________________________________

3.6 Rock Climb on Table Mountain -  6 April 2002

                           by Raymond Jonker

----------------------------------------------

 

I received a call to-night (4th February) from Angelique van Niekerk, asking me to write something about the rock climb I will be leading in April, in an effort to drum up enthusiasm amongst our members.  I tried to explain that this was not necessary, as we have a small, but dedicated group of climbers, who come along on every climb that Barend and I lead. But to no avail - hence this article.

 

I am not going to appeal to our members at large, but will direct my attention to just two people.  The first is Gerrit Kritzinger.

 

I have been a member of the Club for the past 15 years.  During all this time Gerrit has expressed a mild interest in rock climbing, and I have continuously invited him - to no avail.  I would just like to say to Gerrit, that as this is possibly the last year in which I will lead climbs, if he doesn't climb with me now, he never will.

 

The second appeal is to Altus de Wet.  Now Altus is an all-round nice guy, and an outstanding hiker and leader, but he has never been on a rock climb.  I have invited him on numerous occasions, but also to no avail.  I would just like to say to Altus that a rock climb will add an entirely different dimension to his experience of the mountains, and can only benefit him in his role as hike leader.

 

______________________________________________

3.7 Elandsrivier    Saterdag 6 April 2002

----------------------------------------------

 

Nog 'n maklike stap te Elandsrivier sal plaasvind op Saterdag 6 April 2002. Daar sal geswem, gebak in die son en geëet word. Kom vergaap jou aan die mooi waterval en poel.

 

______________________________________________

3.8 Wemmershoekpiek  13-14 April 2002

                    -  deur Altus de Wet

----------------------------------------------

 

'n Piek waarvandaan jy alles kan sien.  Ons stap die Vrydagaand na Agtertafelberghut (so 2-3 uur).  Saterdag klim ons die piek.  'n Groot deel van die roete volg 'n voetpad.  Die uitsig is regtig indrukwekkend.  Tafelberg, Paarl, Simonsberg en Wemmershoekdam word speelgoed op 'n klein Kaap.  Dalk stap ons met 'n ander roete terug.  Sondag kan ons in Holsloot (Stettynskloof se kant) gaan afloer voor ons huis toe draai.  Tot 12 persone kan gaan. 'n Redelik "aanhoudende" stappie; maar erg mooi.

 

______________________________________________

3.9 Jonkershoek Pieke - 20 April 2002

                    -  deur Johann Benkenstein

----------------------------------------------

 

Wat die Pieke in Jonkershoek besonders maak, is die ongelooflike uitsig van bo-oor Stellenbosch en die Skiereiland.

 

Die roete is matig moeilik en stappers moet redelik fiks wees.  Enigeen met hoogtevrees moet ook liewer nie meedoen nie.

 

Ons sal die oggend ongeveer 08:00 in Jonkershoek ontmoet en sal ongeveer 17:00 weer by die motors wees.

 

Diegene wat nog nie die Pieke oorwin het nie, moet nie hierdie geleentheid laat verby gaan nie.  Kontak asb. vir Johann Benkenstein vir nadere besonderhede by tel. 919 3654 (h) of 421 0116 (w).

 

 

______________________________________________

3.10 Sportklim te Peer's Cave  -  04 Mei 2002

                             -deur Godfree Gert

----------------------------------------------

Sportklim te Peer's Cave

Datum: 04 Mei 2002

Beginners welkom

 

______________________________________________

3.11 Agtertafelberghut  -  4 en 5 Mei 2002

----------------------------------------------

Agtertafelberghut en sundowners gaan saam. Kom meng die twee op 4 en 5 Mei 2002. Vir die meer energieke sal daar ook gekyk word na een van die pieke daar naby, met 'n verkyker as jy wil. Hierdie is een van die beste berghutte om in te slaap en te snork. Kom saam.

 

______________________________________________

3.12 Grootkop  -  Saterdag 18 Mei 2002

----------------------------------------------

In die maand van Mei gaan daar heelwat reën wees en die dagstap op Saterdag 18 Mei 2002, na Duiwelskloof, te Pniel word vir veiligheidsredes vervang met 'n stap na Grootkop, Tafelberg vanaf Constantianek en via Orangekloof.

 

 

====================================================

4 ANDER AFDELINGS SE NUUS - NEWS FROM OTHER SECTIONS

====================================================

 

___________________________________________________

4.1 Cape Town Section

---------------------------------------------------

 

CLUB'S MT RESCUE BACK TO BASICS

---------------------------------

 

Mountain Rescue's withdrawal from the Wilderness Search and Rescue (WSAR) resulted in a fairly acrimonious public exchange or views, which - given that MCSA members are involved with WSAR as well - was disappointing. It now appears, thankfully, that these exchanges have ended and the Mountain Rescue can get back to doing what it always has: operating as a private volunteer group specializing in the rescue of people endangered in the mountains.

 

The decision to withdraw from WSAR was largely the result of Mountain Rescue's inability to have a meaningful say in how WSAR was structured and operated, said Nico van Gijsen, convenor for Mountain Rescue. The MCSA group felt it was being sidelined and that its role in mountain rescue situations would be diminished, he added. He said that the Mountain Rescue team was functioning as well as or even better than ever; it had recently undertaken an intensive training exercise in the Cederberg.

 

NUWE BOEKE IN DIE BIBLIOTEEK

----------------------------

 

Die Kaapse Afdeling het 'n paar nuwe boeke aangeskaf vir hulle biblioteek. Hierdie boeke word aan lede uitgeleen by hulle klubhuis in Hatfieldstraat.

Nuwe boeke:

The mountains of my life               Walter Bonatti

True summit                            David Roberts

The wildest dream                      Peter and Leni Gillman

30 Years of climbing magazine

Mountain men                           Mick Confrey and Tim Jordan

K2: One woman's quest for the summit   Heide Howkins

 

FRIDAY EVENING SOCIALS

-----------------------

Clubhouse opens at 7.30pm. - Show starts at 8.30

 

Sale night: Friday 1 March,  7pm - 8.15

A chance to sell or exchange your produce or gear.

 

1 Spantik 7082m - Karakoram: John Brimble. An expedition undertaken in August/September 2001.

 

8 March Rhodes and Crete

 

15 Saint Helena

 

22 Beyond Gravity