“BERGNUUS”

DIE BERGKLUB VAN SUID AFRIKA

AFDELING TYGERBERG

POSBUS 4752

7536 TYGERBERG

 

Desember 2002

 

‘n Geseënde Kersfees en ‘n Voorspoedige 2003 vir julle almal !

 

 

BOODSKAP VAN DIE REDAKTEUR

 

 

Nuwe dae; nuwe dinge!  Bergnuus” het ‘n nuwe redakteur en nuwe voorkoms.  Of sal ons sê, voorlopige nuwe voorkoms.  Ons het ook ‘n nuwe formaat probeer (wat eintlik al ‘n ou formaat is).  Laat weet wat jy dink.  En terloops; ons soek hulp: skrywers, proeflesers, vouers, spoegers en plakkers.  Laat hoor van jou.  Lekker lees intussen!

 

altus.de_wet@capetown.gov.za   Altus de Wet

 

 

JAARVERGADERING  1 MAART 2003

 

Hiermee word alle lede hartlik uitgenooi na die Tygerberg Afdeling se Algemene Jaarvergadering by  “Sunbird Omgewingsentrum”, Silwermyn natuurreservaat.    Die Sentrum is sowat 50 km van Bellville op Ou Kaapse Weg (M64) oor die berg (Kommetjie se kant).  Die ingang is aan die linkerkant van die pad en goed gemerk.  (Aan die regterkant is ‘n aftreedorpie “Silvermine Village”)  Skakel Claude of Altus vir verdere pad- verduidelikings.

 

Die sakelys, voorgestelde wysigings en ‘n kaart is op ‘n aparte blad aangeheg.   Bring groot asb saam na die vergadering! (Jy moet, anders gaan jy verdwaal!)

 

Ons sit die gewone tradisie voort met die jaarvergadering Saterdagmiddag om 18:00 gevolg deur 'n lekker braai. Sondag is daar 'n keuse van stappe in die omgewing.  Onthou om jul eie braaihout en rooster saam te bring.  Akkomodasie & Wasgeriewe is beskikbaar.

 

 

LEDEGELD 2003

 

 

Die volgende ledegelde is deur die komitee aanvaar op 2002-10-23. 

 

Gewone enkel lid                           R 85

Getroude lede by een adres            R140

Junior lede                                     R25

Poslede / Plattelandse lede            R50

Intreefooi                                       R60

Gaste op stappe                            R5 (maksimum R10)

Rotsklim

Voornemende lede R10 per dag vir die eerste 4 klimme(waarna daar om lidmaatskap aansoek gedoen kan word) en daarna R20 per dag

Lede van ander Afdelings (vir Rotsklim)           R10 per dag

 

 

 

KOEBEE-RIVIER CANYON         28 SEPTEMBER - 4 OKTOBER 2002

 

 

Ons was 'n groep van 18 wat die Saterdag stuk-stuk op Van Rhynsdorp aangekom het, van waar ons saam na die beginpunt sou vertrek.  Op die pad na Nieuwoudtville het ons op 'n grondpad na die Koebeerivier weggeswaai.  Divvie se motor was nou nie eintlik gebou vir sulke ruwe terrein nie, maar omdraai kon mens ook nie.  Frieda (as vrou van die leier) moes die talle plaashekke oopmaak, maar het deurentyd bly "smile" ...

 

Die voertuie is aan die einde van die plaaspad agtergelaat.  Na 'n vinnige middagete en 'n geskarrel om te besluit wat werklik op die 6 dag staptog saamgedra moes word, het ons al beurend onder ons swaar rugsakke ingeklim en agter Charlie koers gekies.  Gelukkig het die ligte reëntjie opgeklaar en was die veld vars en mooi.

 

My eerste herinnering aan die Koebee is ons herhaaldelike "river crossing". Male sonder tal het die loop van die rivier en digte ondeurdringbare doringbome ons gedwing om kortpad oor die rivier te kies.  Die ronde rivierklippe wat dan as "steps" vir 'n droë oorgang moes sorg, het feitlik elkeen van ons een of ander tyd "boots & all" in die water gehad!  Tog het dit gelyk asof Divvie en Maureen besonder baie in die proses gesneuwel het ...

 

Ons leier het sommige dae moeite gehad om die groep aan die stap te hou, want die menige swempoele in die rivier was net te verleidelik in die heerlike warm weer.

 

Die digte bosse langs die oewers het ons partykeer gedwing om uit die canyon te beweeg.  Dan moes ons teen die kranse uit en het 'n nuwe wêreld voor ons oopgegaan met vetplante in al hul verskeidenheid en kleur.  Frans en Elsa kon telkens die minder ingeligtes reghelp met die identifisering van die verskeie spesies.

 

Smiddags omtrent 5 uur het Charlie begin uitkyk vir 'n geskikte kampplek. Die eerste twee aande is die "steaks" op die miniatuur roostertjies uitgepak en is daar op die spierwit sandbank van die Koebee tent opgeslaan - absoluut idillies mooi!

 

Die jongspan (dié van die Buckle broers, asook Wikus) het uitstekend gevaar en deurentyd vir hulle self gesorg.  Ryno het ewe trots ook een aand sy "vangs" op die kole gebraai en ons almal aan sy "trout" laat proe!!

 

Ons het die Koebee gevolg tot waar dit by die Doringrivier aansluit. Daarvandaan is ons langs die Doring af - 'n breër en sterker vloeiende rivier.  Plek-plek was die oornagplekke van die "River Rafters" sigbaar.

 

Woensdagnag, terwyl 'n mini-tornado die Kaapse Vlakte getref het, het hewige reënbuie en sterk rukwinde ook ons tente geteister.  Gelukkig het ons die tentpenne vooraf sorgvuldig met swaar klippe beveilig, sodat ons droog gebly het.  Hans moes egter, vanweë Maureen se een-vrou-tent, by Divvie-hulle gaan aanklop vir skuiling ...

 

Groot opwinding is beleef toe 'n reuse pofadder eendag  die paadjie vlak voor Charlie gekruis het !!  Gedagtig aan die onlangse koerantberigte van fatale slangbyte, het ons `n eerbiedige afstand van die reptiel gehandhaaf terwyl hy hom stadig onder 'n bos ingekrul het.

 

Die finale toets vir ons kragte was toe ons aan die einde van die staptog die Doring moes kruis. Met ons rugsakke omhoog en met die water tot om die middellyf (en natuurlik in die minimum klere) het ons Frans na die oorkant gevolg, nadat Marianne eers die rivier "verken" het.

 

Die eindpunt was by die keerwal naby Trawal (by die Olifantsrivier ), waar die bestuurders met Japie se Jeep na die beginpunt is om die motors te gaan haal.  Dit was eers VIER UUR later dat die voertuie weer, met 'n behoorlike "mud spray" van die goeie reën, by ons aangesluit het en ons die lang pad Kaap toe kon aanpak!

 

Aan Charlie, baie dankie vir jou uitstekende leierskap onder moeilike omstandighede.  Synde 'n wildernis-area, was daar nie sprake van 'n behoorlike paadjie nie.  Geen wonder dat Charlie besluit het om volgende keer nie die geniepsige doringtakke sonder 'n kapmes aan te durf nie....

 

Johann Benkenstein

 

 

MCSA Meet to Pakistan August 2002

 

 

Under the leadership of Greg Devine 10 MCSA member went on a National Meet to Pakistan in August 2002. The trekking objective being to reach Lukpe Lawo a  77 square kilometre wide and 1.5 meter thick expanse of almost level glacier surrounded by 6000-7000 meter unnamed and unclimbed peaks . The sheer scale and magnificence of these mountains lead  Sir W Martin Conway  to describe view to the east of  Lukpe Lawo as "beyond all comparison the finest views of mountains it has been my lot to behold"  and name Lukpe Lawo Snow Lake. Tilman and Younghusband call it the finest mountain scenery in the world that "attracts by its grandeur but repels by its desolation" With these recommendations we were expecting a memorable trip but also aware that the weather would play a major part . Out of 16 days trekking  we had 14 days of sunshine from dawn to dusk and 2 days of what Capetonians would not even consider rain! 

 

We followed the classic route  traversing Biafo and Hispar glaciers systems and crossing the 5151 meter Hispar La Pass visiting Snow Lake along the way. In view of the remoteness of the area support staff are mandatory ; Pakistani authorities turn back unaccompanied trekkers. Greg arrange support staff through Vista tourism of Islamabad comprising of  guide, cook, and porters to carry 12.5 kgs for each of us, food, fuel and cooking equipment . We supplied our own tents, ropes, crampons etc.  The first few days of the route in involved a daily walk across the chaotic debris covered medial moraine to reach the flat but crevassed Ice Highway  followed by another crossing of the medial moraine to a green and flower filled ablation valley. It was light until 20:30 which left plenty of time to drink tea, soak up the sun and admire the awesome views. As we progressed along the Biafo glacier the camps were more rock than green, one known camp had been avalanched away and re established a couple of kms further down the glacier, this made for a long day but to our delight one of the porters appeared with tea and the news that we were only an hour from the new camp. For the approach to Snow Lake  it was necessary to walk in roped teams but there was very little snow and we were able to jump rather than zigzag round a lot of the crevasses. We only spent two nights sleeping on ice; One at Snow Lake and one at the top of Hispar La Pass. A very small price to pay for what really is the ultimate mountain view.   The trip down from the pass along the Hispar glacier was more heavily crevassed but with perfect snow conditions and weather our porters who had done it before commented "we do not feel  we have crossed the Hispar La". At which point  the mountain gods must have felt peaked and the ice gave way  under one of our party who fell into a glacial stream! The last few days along the Hispar glacier included crossing a couple of incoming glaciers and negotiate safe passage passed mud slides and avalanched sections of the route. We reached our last camp a flower filled meadow beside a glacial stream with a 6000 meter  peak as a back drop at lunch time, delighted with the idea that the was only one more glacier to cross and a path to walk  on to Hispar village where jeeps would be waiting to transport us to Karimabad. The porters showing no signs of fatigue after carrying 25kg+ loads for days  spent the afternoon playing football!

 

This trek is described in guide books as "technical" with the warning that it  "should not be ones first trip to Karakoram" I think good weather and great support staff made as early as it gets but we were pretty knackered at the end of it and enjoyed a few days of relaxation in Karimabad; Getting up at 4am to go up to a view point and watch the sunrise over Rakapo and Golden peak (Spantik). A trip up to the 4700m Khunjerab pass  the highest point on the Karakoram highway and the Pakistan China  boarder. Daywalks to Ulta Meadow  and Rakaposhi  base camp. As well as much carpet buying and retail therapy for those so inclined! Vista contact details: Bilal Ahmad  vista@vista-tourism.com      www. vista-tourism.com

 

 

 

BLOUPUNT EN COGMANSKLOOF        12 TOT 13 OKTOBER

 

 

Daar doen die Bergklub dit toe weer!  Dit was seker die eerste keer dat iemand dieselfde piek twee weke na mekaar geklim het.  Claude en Loretta Steenkamp het die vorige naweek sommer  vir  oefening ook Bloupunt geklim en toe weer die volgende naweek  van die 13 de ook.  Maar die keer het ons die eintlike piek geklim ‑ Bloupunt  propper ‑ 1266 m volgens Claude se GPS, so sê die  boek  by die baken op die berg ‑ gaan kyk maar!  Dit was eintlik Kobus Marais se groot begeerte om tot bo‑op die piek te klim.  Dit was n' lekker stap ‑ nie maklik nie, want Bloupunt is maar styl, maar tog n' goeie toets van  jou fiksheid!  n ' Mooi groen kloof met water tot jy by die teestop kom,  dan kyk jy bo‑oor die berg in die rigting van Robertston en Worcester met Ashton net hier onder jou.  n' Interessante plantspesie wat ons  glad nie ken  nie, groei bo‑op die piek.  Die pad  terug na die hut is hard op die voete, maar darem nie te moeilik nie.  Ons het diere ook gesien.  Bergskilpaaie en bokkies en bobbejane, wat die  toilette by die oornaghut "beset" het en hulle tekens oral nagelaat het!  Daar is nie swemplek op die stap nie, maar die storte  is darem n' troos. Die Sondag stap jy Cogmanskloof, wat ook weer n' sirkelroete terug na die hut is.  Dit is makliker en korter as  Bloupunt.  Na die lekker koue stort het ons die pad terug Kaap toe aangepak.

 

Christo Dippenaar    

 

 

Maanskynkop               18‑20 Oktober

(nee, nie 'n lang naweek nie, lees verder)

 

                                                                       

 

Die beste 'oornaghut' waarin ek nog geslaap het, met uiters gasvrye eienaars  Johan en Elmien Botha, was ons eerste stop vir die Vrydagnag. Die bovertrek herinner aan Arangieskop. Daar is van sononder af gekuier en gebraai en gelag, so in die gees van wat vir my mos altyd na die ware lewe voel: goeie drinkgoedjies, goeie vriende wat jou liefde vir die berge met jou deel, goeie kos op 'n lekker houtvuur se kolebed berei en 'n oornaghut met die see se gedreun in die agtergrond en die bergreeks op die voorgrond. En mens het nog niks gestap nie, dus voel jy so 'n paar jaar onder jou ouderdom weens die opwinding van die vooruitsig van die stap die volgende dag. (Later in die naweek klim jou aanvoelbare ouderdom aansienlik, min of meer eweredig aan die stap se helling, duur en temperatuur). En dis mos  altyd lekker om uiteindelik langs jou half uitgepakte rugsak neer te sak vir die nag.

 

Vroegoggend in Onrus (verkeerde naam wat die plek gekry het, dis seker) is dit so rustig met die sonnetjie wat vrolik skyn na die reëntjie die vorige nag en voëltjies wat oral kwetter dat mens wonder of jy nie maar hier by die see moet rondlê nie, maar dan kom Altus met 'n kragtige woord: "Bo‑op die berg is dit NOG mooier". Die man was reg. Vir 'n bergliefhebber is dit altyd mooier daar bo. Daar word nie verniet so baie geskryf en gefilosofeer oor die 'summit experience' nie; daar IS iets daar bo wat nie in die vlaktes te kry is nie.

 

Bietjie laat (09:15) begin stap uit Fernkloof, omdat ons vir Gerrit en Claude‑hulle gewag het uit die stad, maar dit gaan fluks en maklik, veral omdat mens nie dadelik opdraand begin nie en jou hartspoed geleidelik oploop tot 'n gemaklike pas soos deur Charlie aangegee, maar die paadjies se hellings is net reg. Ja, die teleurstelling was dat Elmien nog nie kans gesien het vir die ding na haar operasie so 'n paar weke gelede  nie, dus het die 'land people' van die 'oornaghut' tuisgebly.  Gou‑gou was ons al halfpad op met die vertikale totaal van ongeveer 800m en doen Galpin hut aan (glo huurbaar vir R80 per nag, vier beddens met kerse en bedkassies en inwonende muis inkluis). Die uitsig is reeds verruklik. En die BLOMME ! Dis mos darem nog so amper Lente.

 

Nog 'n lekker lang diep asemteug en ons is bo. Op Aasvoëlkop. Waar uitvallers glo gevreet word deur die aasvogels gelukkig was daar nie diesulkes nie en die vogels moes honger bly. Wees gewaarsku as jy hier wil loop in die bloedige somer: dit kan warm raak en daar is nie water nie, niks. Nog 'n entjie verder en ons was 15:00 by die nag se kampplek met darem 'n watergat naby. Ver laer na die Weste was daar heeltyd 'n klein swermpie paragliders doenig in die lug. Koel dag gewees. Heerlik gewees.

 

En toe split die stap mos:

 

Gelukkig nie oor onenigheid nie, nee, net twee (lui? onfiks?) deelnemers wat kleinkoppie getrek het omdat hulle al vantevore op Maanskynkop was, wat nog 9‑10 km verder aan was. So bly die twee toe agter by die rugsakke om die ideale kampplek te soek solank, en die ander stryk aan met aansienlik minder las op die skouers. Hier moet die skrywer nou verder vertel uit die 3 jaar vantevore se  ervaring van Maanskynkop: Chocolate Box ‑uitsig, want die  kop lê heel voor aan die see se kant op die Oostelike punt van Hermanus, ongeveer 900 m hoog. Vir akkuraatheid tot die laaste millimeter oor elke punt langs die roete kan Claude geraadpleeg word sy GPS het oortyd gewerk.  Dis 'n mooi, maklike stap. Sodanig die moeite werd dat Elsa (dis nou my meisiekind of dogter, as jy wil) mos hierdie stap volledig vrywillig onderneem het.

 

Taamlik moeg met effense spyt‑kom‑te‑laat opmerkingkies deur sommiges kom die geselskap terug waar die eerste tent  al staan. En so draai die aarde voor die son in en die koel nag spoel oor ons met 'n amperse volmaan wat opkom. Seker SY skuld gewees dat die koel seebriesie omgesit het in 'n koue landwind (ongewoon nè?) wat ons tente die ganse nag lank geflap het en aangehou waai het tot diep in die volgende dag in.

 

In die nag het  een van die Benkensteins glo soos 'n honger wolf aan die eet gegaan as gevolg van die stap na Maanskynkop Die afstap was netso maklik, weer terug oor Aasvoëlkop en dan net af en af langs 'n ander roete. Wat my lank sal bybly is die stap op die meslem: soos in die prentjies van die supermense wat op daai tamaai ysberge wat weerskante teen 60 grade na onder gaan se meslem loop/klouter. Ons s'n was egter lekker warm en droog en darem so 2m breed met grasbedekte hellings weerskante en gladnie so erg hoog nie. Mooi, so mooi. EN: elke keer as jy om 'n draai kom, dan loer die potblou see vir jou met die breë wit skuimbranders aan die rand. Walvisse? Ja, darem so 'n klein groepie gesien lê en wieg in die deining, maar bietjie ver vir sonder verkykers. Erg warm in die onderste klowe die laaste ent. Middagete sonder die Benkensteins,  had  toe nie meer 'n middagete nie en is  vooruit na die pannekoekplek toe. Onder die bome onderkant die drie damme geëet en toe net 'n laaste maklike km op 'n kontoerwal tot by die tjorre met die stad in die voorruit. Ai.

 

Sterk aanbeveel, hierdie stap. Soos ek van hulle hou: nat, koel en groen sonder goggas, nie droog, geel en warm met goggas nie, maar gaan in die winter/lente want Fernkloof is nie verniet beroemd vir hoe die Here daar tuinmaak nie

Deur Ferdie Botha

 

 

Turretpiek        26 ‑ 27 Oktober  2002

 

 

Saterdagoggend ontmoet ons mekaar op Gydopas naby Prins Alfred Hamlet.  Die twee voertuie ry van hier verder tot by die plaas Donkerbos van waar die staptog begin.  Na twintig minute se stap op in Wydekloof arriveer agt stappers by 'n pragtige waterval.  Na 'n blaaskans val ons weer in die pad op langs die waterval en verder op totdat ons die middagete plek bereik.  Na ete en 'n heerlike swem in die swempoele kies ons koers verder in die kloof op.  Na 'n ent se stap roep Ralph halt ‑ daar's iets verkeerd ‑ hy geniet dit nie meer nie en kan nie die pas volhou nie ‑ miskien 'n maagkiem!  Na 'n kort beraadslaging besluit Ralph, sy broer Roger en Dalene om die dag nie verder te klim nie en miskien sien ons mekaar die volgende dag.  Die res van die groep nl. Frans, Reyno, Kobus Marais, Elsa en die uwe is toe verder die kloof op, nogal 'n ruwe klim.  Later draai ons links op in 'n sy klofie met nog 'n steiler helling tot bo by die kampplek.  Die swaar rugsakke word daar gelaat en ons kies koers weswaarts oor die berg om in die Olifantsriviervallei met sy diep klowe in af te kyk.  Na 'n wye draai se stap keer ons terug na die kampplek waar ons nesskop vir die nag. 

 

Sondagoggend verken ons die teenoorgestelde kant van die berg.  Ons eerste rusplek is in 'n grot net onderkant die Turretrots-kolom.  Vandaar het ons die Turretrotskolom uitgeklouter tot net onder die Turret self.  Daarna is ons deur 'n onbeskryflike klip wêreld met indrukwekkende rotsformasies, toe deur klipskeure, 'n besoek aan nog 'n grot en afgronde en uiteindelik het ons Turretpiek self tot by die baken bestyg.

 

Terug by die kampplek wag Ralph‑hulle vir ons.  Hulle het kans gesien om vandag met dagsakke die berg uit te klim.  Na middagete is die hele groep saam berg‑af met 'n ander roete. 

 

Die Turretpiekarea bly maar 'n interessante plek om in te stap en te verken met 'n baie mooi natuurskoon.  'n Ware wildernis ervaring!

 

Deur Charlie Buckle

 

 

OPPORTUNITY: ACONCAGUA

 

 

 "In Jan this year I climbed Aconcagua, Argentina with a couple of friends.  Unfortunately my camera was stolen near the return so I do not have a record  of the trip which was an utter mind blowing experience and I decided to repeat it.

I plan to go again early next year, 2003, probably beginning February, and was wondering if you could put an ad in the MCSA  web site enquiring if any of your members would be keen to join a private  (i.e. not run by a guide company) trip to Aconcagua.

 

Each person, including myself, would pay their proportion of the costs - i.e. no profit motive - like a berg trip among friends. We did it this way last year so I am familiar with all therequirements and conditions etc. This saved us huge amounts.  If you know of anyone who might be interested, I would be grateful if you  could forward this or put them in contact with me."

 

Time away from home approx 3 weeks. Estimated cost including air and bus travel, but excluding equipment hire;  R12000 - R14000

 

HENRY COPPENS    henry.coppens@za.sappi.com

011 360 0259,  Fax:   011 816 2604,  Cell:   082 926 7891

 

 

 

KOMENDE AKTIWITEITE

 

Wit-els-kloofstap (9-13 Jan 2003): Daar is 2 plekke beskikbaar op Witels stap 9-13 Jan 2003 weens 'n kansellasie. Stap leier: Paul Verhoeven van Stellenbosch Afdeling. Koste R110 per persoon. Kontak asb. vir Paul by e-pos PFMV@sun.ac.za of Su Vogel by svw@intekom.co.za vir meer inligting.(Paul belowe dat hulle beplan om dit baie rustig te vat.)

 

Baviaanskloof en Groot Wellington Sneeukop (25-26 Januarie 2003).  Gerrit van Zyl lei die stap in sy bekende “territory”.   Pragtige berge en nog mooier uitsigte.  Geleentheid vir sweet en swem.  Ons sal in die berg kamp; so bring jou tent en swembroek!  Bel Gerrit: 919 5012 vroegtydig.  Plekke is beperk.

 

Jan du Toitskloof (8-9 Februarie 2003).  Altus de Wet lei (weer eens) ‘n trop bergbokke die kloof op in die spoor van die ou boesmans.  ‘n Lieflike kloofstap in (hopelik) warm weer.  Ons slaap onder ‘n oer-oue oorhangkrans met muurskilderye.  Jy’s meer is die water as op die klippe (beplan; hoop ons).  Min plek: bel vroeg.  Altus 913 1500.

 

 

Volgende uitgawe:   Artikels vir die volgende uitgawe moet asb die Redakteur bereik voor 15 Februarie 2003, verkieslik per e-pos (hy tik maar stadddig en maak baie foute).