DIE
BERGKLUB VAN SUID-AFRIKA
AFDELING
TYGERBERG
POSBUS
4572
Oktober
2003
Die jaar lê al weer op sy rug. Hier sit jy met voorlaaste (bielie) Bergnuus van 2003. En hierdee keer kry jy ook ‘n “kleurbylae
by” (sien middelseksie). Hiervoor moet
ons Raymond Jonker bedank wat met groot moeite en geduld die blaaie gedruk
het. Baie dankie Raymond!
En sommer aan almal wat sulke lekker stories gestuur het oor
lief en leed, kruine en kreune, dorings en strome. Lekker lees!
Artikels vir die volgende uitgawe, moet my asb teen 15
November bereik, verkieslik per e-pos, of getik op skyf. Sien e-adres aan einde. Altus
‘n Woord van Yvonne Truter
Ek wil graag
deur middel van “Bergnuus” elke lid van die klub wat op watter wyse ook al na
my uitgereik het tydens Dan se afsterwe, baie, baie bedank. Kaartjies, oproepe, besoeke, simpatieke
woorde en pragtige blomme is tydens so ‘n tyd iets wat baie waardeer word.
Aan diegene
wat van julle wat die gedenkdiens bygewoon het, ‘n spesiale dankie. Altus het ekstra moeite gedoen om ‘n
lieflike ruiker en kaartjie te kom aflewer namens die Tygerberg Afdeling en ook
daarvoor het ek groot waardering.
Dankie julle. Groetnis.
Yvonne
AANKOOP VAN SERWITITUUT: WAAIHOEK
Die
Bestuur van die Tygerberg Afdeling het in beginsel R30 000 bewillig vir die
aankoop van ‘n serwituut in die Waaihoek area.
Dit gee (definitiewe) toegang tot dele van die Waaihoeksberge (Zuurberg
eiendom) en die Wit-els kloofstap aan alle afdelings van die BKSA. Die totale bedrag beloop heelwat meer en
word gefinansier deur UCTMSC (Univ. Kaapstad Berg en Ski Klub) en die nasionale
BKSA.
More Info. re. the UCT purchase
of the property that gives access to Waaihoek (Zuurberg) and the Wit Els
a.
UCT is buying about two thirds of the
property (owned by Robbie Meyer) that gives climbers (sensu lato!) access to
the Hex River Mountains in general and the Wit Els kloof in particular.
b.
MCSA (CT) has agreed to raise ~R200 000 towards the purchase price of R705 000
in return for a servitude over the new property and the entire 8 000 odd hectares already owned by UCT. [previously,
only a small portion of the Zuurberg property was the subject of a MCSA
servitude.]
c.
Obviously we are on a fund raising drive internally and we are asking the other
sections of the Club if they wish to contribute. The servitude will be
registered in the name of the MCSA and all it's sections so you are all on a
winner anyway!
d.
However, equally obviously, we would really appreciate it if other sections
felt able to contribute towards this purchase. [Thank you Paul for your promise
of the large contribution from Paarl-Wellington!]
e. The servitude will be worded such that there will be no "discrimination" between UCTMSC members and our members - bearing in mind that UCT is taking the risk of being the property owner with all that entails and we ride on their coat tails to an extent. If that seems illogical, I can detail all the implications behind it but it will be rather a long e-mail if I do that so please bear with me!
f.
N.B. Wit Els and access thereto will still be controlled and managed by UCT.
MCSA
members will have equal booking "rights" and will pay the same as
UCTMSC members but numbers are limited and will be on a first come first served
basis. I realise that this will lead to frustrations but this is inevitable and
may be compared with trying to book other kloofs and trails in the Western
Cape. The Wit Els has seen some serious degradation over the last years and I
am sure that you would not wish to be party to it's complete trashing. So
please - again - bear with us while we get all our ducks in a row.
I
think that covers it. All contributions gratefully received! I still have to
raise another R300 000 from alumni for the UCTMSC portion of the purchase
price!
Bo-op die Boland
deur
Ferdinand
Botha
“Wat besiel mense om in die
winterstorms in die berge in te foeter en dan in die nuus huis toe te kom?”
Het ek self my gesin afgevra toe ons bevoorreg was jare gelede
om hier in die Kaap kom woon. Nou doen
ek dit self ! Gelukkig het ons nie die nuus gehaal nie, maar dit kon
seker maklik gebeur het…
Alles kom terug op besluite en
natuurlik wysheid, waarvan die
uwe so baie kortkom. Maar dan is die anderkant van die munt dat avontuur juis
in die onverwagte lê, daardie kere wanneer dinge bietjie buite die “normale”
gemaksgrense loop. Wat ek bedoel is dit: praat jy ooit met iemand oor hoe
lekker jy vanmore in jou verwarmde motor werk toe gery het, en dat die
ruitveërs gewerk het? Onwaarskynlik, want dit is die normale, verwagte verloop
van sake (vir meeste van ons bergklimmense ten minste, ons moet ook dink aan
ons baie landgenote vir wie so-iets nog net ‘n droom is).
Jy staan Saterdag 23 Augustus
laatmiddag bo-op Matroosberg na ‘n heerlike dag se klim: ‘n lieflike sonnige dag met skiërs teen die hange, hordes
stedelinge wat in die sneeu kom speel danksy hulle kragtige 4x4 monsters, en
diepblou lug wat met die skerpwit van die sneeu kontrasteer. Daar was ‘n
pragtige sneeu-luiperd net langs die voetpaadjie op pad boontoe . Sterkerige
wind, maar wat, mens kan mos agter die rotse tent opslaan en daar slaap soos
die beplanning is, en soos ons dit nou al baiekeer gedoen het. Na die Ooste en
Noord-Ooste lê die Karoo so wyd soos die liewe Heer se genade, Noorde toe is
daar die Swaarweerberg en nog ander verderaan met dik lae sneeu en die ander
netso-wit koppe hier naderby, net oorkant die diep, indrukwekkende
Matroosberg-skeur, Suid is die Hexrivier-vallei bietjie agter die voorgrond,
maar die hoër grond oorkant die vallei
tot verby die Koo-vallei is maar ook
bruin en oninteressant soos die Karoo. Weste toe is die see doer ver anderkant dele van die
Hottentots-Hollandberge wat onbekend lyk, soos “van agter” gesien, vir
Kapenaars. En hier is die besluit: Jy SIEN die koue front op die horison, maar
dit lyk so onskuldig – ‘n dun strepie wolke wat net-net sigbaar is. Jy weet
verder die weerprofete het “Reën op Sondag” voorspel. Ons BKSA-mense skrik
mos nou nie vir reën nie, ek meen, mens
pak mos maar net op en gaan huis toe om te gaan droogmaak… Om nou af te stap in
jou gaar toestand (Matroosberg is mos darem die hoogste een in die Boland) is
nie ‘n lekker voortuitsig nie, daar is min tot geen (beskutte) gelyk grond voor
jy weer heel onder is, en om darem jou tent en alles verniet op te gedra het is
ook net vir malles wat hierdie dinge vir oefening doen en niks anders nie.
Ons kampeer 20 vertikale meter onder
die Matroosbergpiek langs die Jeep track
soos ons dit in goeie Afrikaans noem. Nie dat dit na ‘n track lyk nie, dis
basies toegesneeu en baie plekke is met seepgladde ys bedek. Jy wonder watse ding sal wel daar kan ry, maar dis ‘n
gerusstelling dat jy langs ‘n “gebaande
weg” sou kon afloop tot onder. Besluit is dus geneem. Die aand is OK. Mars kom
op oor die horison op sy naaste punt aan ons aarde, daar is tyd vir Glühwein
maak en vroeg gaan lê, want die wind kraai koning.
Nou ja, die Jeep track is ook ‘n hele
storie: Soos van ons lede Matroosberg ken, is dit ‘n ongerepte plek buiten die
een (oorspronklike) ski-hut en die ski-hyser, alles gebou deur die ski-klublede
se ywerige dra-vermoëns. Vandag is daar die yslike letsel van ‘n Jt teen die
berg op, eers van onder tot amper bo (2
jaar gelede), nou tot heel bo. Goed vir die mense wat hulle radiostasies daar
bedryf, maar ‘n seer-oog. Genadiglik, as mens onder in die kloof opstap soos
wat ons altyd doen, is die meeste van Jt bo en buite sig, dus sien, hoor (en ruik) mens nie die goed wat daarop
beweeg nie. Vandag is daar baie meer hutte, ‘n tweede ski-hyser en die 4x4
doppe het die berg volgestaan – wat mens tegelyk vervul met dankbaarheid dat jy
darem nog soos in die ou dae self en met jou eie bene bo kan kom én agterlik
omdat jy dan nou nie ook so in styl na bo beweeg nie. Hoofrekeninge bring mens
egter gou by die rede uit waarom die
boer die pad laat maak het: die inkomste kan maklik sy oestjek ewenaar of
oorskry, en al wat hy moet doen is om telefoon te praat en by die hek te staan
en vriendelik wees terwyl hy die geld ontvang.
Die wind waai al sterker en
dwarsdeur die nag, uit ‘n rigting wat so is dat ons LANGS die rotse is. Werk
mos altyd so. Dus klap die arme tent se seil oorverdowend langs my oor. Slaap
lyk na ‘n onmoontlikheid. Gewonder of
ek dan die volgende dag op pad huis toe agter die stuur gaan begin slaap… Na
middernag begin dit sneeu. Horisontale sneeu, nie vlokkies nie, maar sulke
bytjies wat enige stukkie ontblote vel met mening aanval. Eerstehands ervaar
tydens ‘n kort draai gedurende die nag.
Nou is dit tyd om ernstig te begin wonder oor Die Besluit. Jy sien visioene van mense wat hopeloos verdwaal in
die “white-out”, selfone wat nie kommunikasie het nie of pap batterye,
programme en afsprake vir Maandag (en Dinsdag??) wat by die deur uitwaai, en
ja, die nuusmense wat vrae vra. En heeltyd klink dit of die helfte van die
aarde se atmosfeer besig is om hier by jou tent verby te beur. Jy wonder hoe jy
sal oorleef as jou tent nou moet oopskeur en al die sneeu beland direk op jou
dun slaapsakkie (ja, myne is net af tot nul grade gespesifiseer). Gewonder of
ek nog hoegenaamd op pad huis toe gaan wees.
Ligdag vat mens weer bietjie moed en
ons besluit om maar eers te sit waar ons warm, droog en veilig is, en te bel om
te laat weet ons gaan laat wees. En gebid, ja. Twee dudes kom baie vrolik
verby: “Hi! Are you guys OK in there? We are on our way to the summit, will be
back in half an hour” Mens wonder weer: Wat maak mense in so ‘n storm op ‘n
berg? Hulle moes bedoel het om daar te wees, en het nie na ‘n halfuur
teruggekom nie.
Teen elfuur se kant word dit
duidelik dat my tent se wind-op kant onder die sneeu weggeraak het, dat dit
langs die plek staan waar ons dit
opgeslaan het, en dat iets binnekort gaan breek. Gebede is verhoor: en die wind
raak stiller. Ons pak op en grawe tente uit (en verloor seker ‘n paar penne in
die proses.) en nou stap ons maar, hoewel die white-out en digte mis nie juis minder is as vroeër nie – sig is so
30 – 40 meter. Die Jt is ‘n betroubare gids, die vars sneeu bedek die gladde ys
en ons stap eintlik BAIE LEKKER: sagte voetval en by tye is dit windstil en die
sneeuvlokkies warrel sprokiesagtig om jou rond. Foto’s word geneem.
By die boonste ski-hyser-hut is drie
manne wat ons vra om te help uitkyk vir ‘n ou in oranje klere, hy het weggeraak
tussen die twee ski-hutte… die pad wat ons nou ook reeds aangepak het.. Selfoonnommers word uitgeruil, maar MTN werk
gladnie en mens hou die selfoon af en teen jou lyf om die battery warm te hou,
dus is bel ‘n ingewikkelde saak van foon uitgrawe, hande ontbloot en so aan. En
netso vir draaie loop. Net, ander dele word uitgegrawe en ontbloot, gevolglik
is dit makliker om nie draaie te loop nie!
Eind goed, als goed, die Jt was ‘n
aanwins wat ons veilig tot onder gebring het, want die voetpad in die kloof
sou, ten minste vir die boonste deel, heel toegesneeu gewees het. Ons kom so
teen 17:00 weg en 19:30 tuis by dankbare huismense.
As ek Die Besluit van voor af kon
neem, wat sou ek besluit? Beslis die verantwoordlike, veilige opsie om ten
minste ‘n ent laer te gaan probeer slaap of dalk maar om uit te stap. Die beste
besluit, waarvoor wysheid te pas kom,
sou wees om die stap na ‘n dagstap te verander het.
Maar dit was ‘n lekker avontuur, het
Benkenstein & Benkenstein beslis saamgestem. Die ander vier stappers was
nie-lede en hulle was dit ook eens: WONDERLIK!
Towerkop, Ladismith, 24-25 Mei 2003
deur
Franclo Henning
Skielik
voel ek baie emosioneel. Of dit die besielende woorde op die gedenkplaat van
C.J. Nel was, of net eenvoudig die verligting om uiteindelik bo te wees, is nou
nog nie duidelik nie….
Waarskynlik
die hoogtepunt op die jaarprogram vir baie stappers was die Towerkop naweek,
wat plaasgevind het op 24-25 Mei. Vanjaar het Johan Botha die blink gedagte
gehad om dit ‘n gekombineerde uitstappie te maak en die stappers en
rotsklimmers in die seksie te verenig. Oorspronklik het dit vir my na ‘n goeie
idée geklink, maar hoe nader die naweek gekom het, hoe meer het ek gewonder
hoekom ek nou so ver sou wou stap om ‘n bietjie te klim. Sien, vir ons
hedendaagse rotsklimmers is stap iets wat mens noodgedwonge moet doen om by die
rots te kom, en hoe korter hoe beter, want hoe meer tyd aan stap bestee word,
hoe minder tyd is daar vir klim. Towerkop het nie heeltemal aan die vereistes
voldoen nie.
Vrydagmiddag
vertrek ek, Johan en Elmien Botha, Louis Botha (geen verwantskap), Jenni
Bowden, Charlie Buckle, Elsa Geldenhuys, Kobus Marais, Emlin Hitchings, Richard
Morris (beide van die Kaapstad seksie) en Johan Stoit (‘n besoeker van
Nederland) uit die Kaap en na ‘n lang rit tot in Ladismith, is die naweek
ingelei met ‘n kuier om die vuur. En het ek my nie verkyk aan die cuisine
geregte wat hierdie klomp geharde stappers daar uitpak nie. Ek was onder die
indruk 2-minute noodles is die norm vir so ‘n gestappery. Min het ek geweet wat
ek nog sou sien!
Na ‘n lang gespook om die Botha’s vroeg genoeg uit hulle tent te kry (‘n
probleem wat blykbaar nie verwant is aan die hoeveelheid rooiwyn van die vorige
aand nie!), begin ons Saterdagoggend die lang trek teen die berg op in perfekte
weer. Weereens verkyk ek my aan die geharde stappers se “creature comforts”;
veral Charlie met sy dubbelbed matras op die rug vang die oog.
Na ‘n paar stoppe by die Watergate, is ons teen so 15h00 bo by die
slaapplek onder die indrukwekkende rotshange, wat die bekende gesplete piek van
Towerkop vorm. ‘n Paar van ons besluit om ‘n verkenningstog aan te pak, en ons
kom gou onder die indruk van hoe oorweldigend groot hierdie piek en die
omringende klowe is, iets wat nie heeltemal deur ‘n prentjie op ‘n stuk kaas se
verpakking oorgedra kan word nie. Die verkenningstog word redelik gou deur die
winterkoue kortgeknip en terug by die slaapplek word daar maar vinnig
handskoene en “beanies” aangetrek en aandete begin, want dis duidelik dat die
warm slaapsakke binnekort baie aanloklik sou wees. En nie almal van ons het
gereken ‘n tent is ‘n essensiële bestandeel nie…
Daar
is vir my min dinge so bevredigend soos ‘n warm slaapsak op ‘n koue aand met
geen dak of tent wat die uitsig bederf nie. Ek vermoed dit het iets te doen met
die dankbaarheid vir die warm slaapsak wat in my opwel elke keer as ek my neus
uitsteek (my vrou reken dit het liewer te doen met “traumatiese kinderjare”).
En dieselfde warm slaapsak het veroorsaak dat die opstaan die volgende oggend
maar baie traag was.
Sondagoggend
waai daar ‘n wind wat voel of dit direk van die suidpool af kom, en dis
duidelik dat die beplande poging om almal via ‘n maklike klim bo te kry,
waarskynlik nie ‘n goeie plan is nie want dit sou ‘n hele paar ure neem en
verkluiming klink nie lekker nie. Daar word besluit om liewer iets te doen
waaraan almal kan deel hê, en ek en Louis prakseer ‘n ± 40 meter lange abseil
teen een van die kranse af. Ten spyte van die koue en intimiderende hoogte kon
almal die moed bymekaar skraap om daar af te gaan, iets wat gewoonlik nie eers
na ‘n lang gesmeek gebeur nie.
Na
die abseil pak ons op en begin elkeen so teen sy eie pas die stap terug motors
toe. Sommige moet die laaste stuk in reën stap, maar ten spyte daarvan is ek
seker dat almal sal saamstem dat die Towerkop-ervaring vir baie ongemak kan
opmaak.
Towerkop
het my betower. Ten spyte van my vooropgestelde idees oor ‘n gestappery, het ek
moontlik die stap selfs meer as die stappers geniet. En ek het nie eers kans
gehad om te klim nie!
GOEDVERWACHT ROETE 26-27 JULIE 2003
deur
DA
Dertien Tygerbergers het die Morawiese dorp stuk-stuk Vrydagmiddag
betrek. Die naweek se verblyf was in ‘n
ou rietdakhuis wat dateer uit die laat 1800’s.
Dit het net met basiese geriewe, net soos die grootouers van die Smith
familie dit agtergelaat het met meubels, potte en panne, die hele
kaboedel. Na ‘n gesellige braai en
nuwe ontmoetings, het ons gou, soos dit hoort by natuurmense land en sand
gesels.
Vroeg Saterdagoggend het die groep die 16 km sirkelroete aangepak, met
kort opdraend na die plato waar ons mooi rotsformasies teegekom het, soos groot
paddastoele, rots-arende, skilpaaie; jou verbeelding speel partymaal ook maar
sy rol in herkenning van vorms.
Die veld was nie op beste nie na die droë maande wat ons beleef
het. Met die vorige stap het die
proteas en heide, met die bergstroompies en watervalle hul beste voet
voorgesit. Hierdie keer was alles droog;
geen water beskikbaar. Nogtans het die
landskap en vergesigte vergoed daarvoor, met rotsboë en ‘n bietjie klim en
klouter.
By die “kloktoring” formasie is ons kragte weer opgebou met
verversings. Dit was koppie op koppie
af net soos die padwysers aandui.
Middagete is genuttig op ‘n plato met nog ‘n pragtige rotsboog en ‘n
skeur waardeur jy ongeveer 50 m ondertoe kyk van waar jy op ‘n oorhang gestaan
het. Weer het ons die pad gevat al op
die plato met sy boesmantekeninge en waar jy weer jou verbeelding oor die
rotsformasies kon laat gaan. Jammer
die graffitti het sommige van die tekeninge ontsier. Soos dit pas by ‘n bergstappers, is daar ‘n stukkie “bundu
bashing” gedoen, met teenkanting van die 2 jong dames in die geselskap. Nietemin was dit ‘n heerlike gemaklike stap
en die weer was uitstekend, die geselskap was van die beste.
By die huis het ons die soetsuur lemoene geproe, met af en toe ‘n paar
baie snaakse gesigtrekke. Die aand het
ons die braaivleisvure aangersteek en lekker gesels oor ons wedervaringe in die
berg. Na ‘n heerlike maaltyd, het almal
verkas bed toe.
Sondagoggend is ‘n kort staproete anderkant die vallei gedoen tot bo-op Piketberg. Die jongspan en Christiana het verkies om ‘n
aanbod van Mike Smith te aanvaar om met die 4X4 roete die berg aan te pak, met
heelwat avontuur en gegil soos hulle dit geniet het.
Jammer genoeg het die naweek weer te gou verbygegaan; ons moes maar weer
oppak huis se kant toe na ‘n heerlike gesellige verfrissende naweek. Dankie aan almal wat dit meegemaak het. Ek dink die jongspan sal nie gou hierdie
naweek vergeet nie.
SLEEPING BEAUTY - RIVERSDAL
deur
Marietjie
van Rooyen
Nadat verkoues ons spannetjie laat krimp het tot ‘n
steeds entoesiastiese ses, het ons uiteindelik in die pad geval na Riversdal!
Vrydagaand het ons gesellig gebraai by die tolhuis,
terwyl Sleeping Beauty, in haar mistige mantel, stil oor ons gewaak het. Saterdagoggend was ons om en by 8 uur
gereed om ons avontuur te begin.
Na ‘n stewige klim, met ‘n geniepsige sonnetjie bokant
ons, is ons bo-op die kruin. Wat ‘n
pragttige uitsig was dit nie!
Nieteenstaande die feit dat daar ‘n
groot veldbrand was, was die omgewing nog steeds baie mooi. Daar het ons eenvoudige “snackies” geniet,
wat geproe het soos sjampanje en kaviaar!
My gekookte eier en nartjie het ek in een hap verorber en glo my, dit
was koningskos!
Om 13 km opdraand te klouter beteken natuurlik dat jy
weer 13km afdraand moet klouter. Met
bewende bo-bene en onstabiele knieë,
was ek dankbaar om weer by die tolhuis aan te kom. Tussen jou en my, ek was op daardie
stadium meer as gereed om maar tou op te gooi – ‘admit defeat’, en maar alleen
te wag by die tolhuis tot Sondag.
Maar ‘n uur later, met ‘n lekker vol maag en aanmoediging van die span,
was ons weer oppad. Dié keer met sakke
die helfte so groot soos ek!
Anders as wat ek verwag het, was dit ‘n pragtige en
lekker stap! Weer lekker steil, maar
die bene is toe al ingebreek! Behalwe
vir drie seer knieë (myne en Johan s’n) het ons ongedeerd by ons pragtige
oornag huisie gearrivieer. Niks kon
kersvashou by die verfrissende bad in die rivier, en ‘n stomende koppie warm
koffie vir die moeë lywe nie. Jy kon
sommer voel hoe die ‘stress’ van die stadslewe van jou skouers afval. Die beste was egter om aan die slaap gesus
te word deur die gedruis van water langs jou en die reuk van fynbos in die lug.
Sondagoggend was die bene maar baie seer en styf, maar
die avontuurlustigheid was geensins gedemp nie. Ons moes besluit of ons dieselfde roete wou terugstap en of ons
liewer ‘n ander roete, wat volgens informasie baie onbegaanbaar verspoel is op
groot dele, wou probeer. Natuurlik kon
ons nie die versoeking weerstaan om laasgenoemde roete te volg nie. Na byna een en ‘n half uur
se’stap-der-staanstil’, het ons besef dat ons maar ‘n pad sal moet
OOPSTAP! Die oorspronklike pad was erg
verwaarloos en feitlik heeltemal toegegroei.
Gevaarlike styl af- en opdraande deur skerp bosse en
takke, op onstabiele klipperige grond, was genoeg om die adrinalien ‘n bietjie
te laat pomp en jou te laat vergeet van die moeë bene! Na dié rowwe deel verby is, lê daar ‘n
rustige en ontspanne 9km voor wat kronkel deur pragtige fynbos en ‘n heerlike
middagete met ‘n keuse van verskeie watervalle. Die laaste 4km was met die teerpad terug tot by die tolhuis, wat
baie goed was vir die seer, en bewerige spiere.
Alhoewel ons net 6 was, was die stap en geselskap vir my,
die amateur, verskriklik bevredigend en verrykend. Daar in die natuur raak dit stil hier binne-in jou en voel jy
klein teenoor die grootheid rondom jou.
Jy kom moeg en seer terug maar ook vernuwe en jy sien weer kans vir die
alledaagse ‘rat-race’!
Baie dankie aan my spannetjie wie dit vir my so lekker
gemaak het asook vir julle samesyn en aanmoediging. Dit was vir my die begin van ‘n opwindende nuwe sport!
Tot volgende keer!
Donasies Ontvang:
Ons erken met dank donasies ontvang van die volgende persone:
Judith
Philips, Deryck Archer, Johan
Botha, Ausuf Raad, Franclo Henning ,
Salmon Beneke, Ferdie Botha, Maretha Kruger , Pauline vd Vyfer, Emil Boeke,
Dalene Stamper , Christo Dippenaar, B Venter, Ralf Raad, Leon v Niekerk , DA
Moller, B Visagie, DT de Villiers, M Holtzhausen
Vrydagmiddag het 4 Kritzingers, 2 Buckles, Christo
Dippenaar, Frans Viljoen en Elza Geldenhuys na Swellendam se karavaanpark vertrek om daar te oornag
voor die stap die volgende dag. Tente is gou-gou opgeslaan en die vuur
aangesteek om in die regte stemming te kom vir die naweek.
Saterdagoggend
het ons na Somersets Gift vertrek en met die nuwe eienaar kennis gemaak. Ons
het in ‘n baie sterk wind begin stap en die uwe het toe al begin profeteer,
maar saam met die groep die rivier oorgesteek en die steil paadjie die Voorberg
begin uitklim. Die paadjie het na ‘n tyd heeltemal verdwyn en gelukkig het die
wind darem afgeneem. Ons het deur die dig begroeide gebied gestap en pragtige
heide, sewejaartjies en ander veldblomme het die veld in ‘n blommeprag
omgetower. Ons vroumense het maar gekerm oor al die skrape wat ons in die
proses opgedoen het en die steiltes wat ons moes uit.
Langs die roete het Gerrit natuurlik weer al wat ‘n uitheemse boomsoort is wat vernietigbaar was, uitgeroei – darem met die hulp van die groeplede. Amper bo het die wind weer stormsterk gewaai en ons moes omtrent spook om regop te bly. Hannelize het al gillend aangekom nadat die wind haar sommer gelig het en weer ‘n paar tree verder neergesit het. Ons besluit toe om maar aan te stap tot by die skuiling en daar middagete te geniet.
Gelukkig
was die skuiling heeltemal beskut teen die wind en kon ons toe heerlik
middagete nuttig. Sommige het ‘n middagslapie ingekry en ander het die omgewing
verken. Frans, Christo en Elza het die wind trotseer en nog verder opgeklim
terwyl die res van ons rustig verkeer het . Ek het eintlik gedink ons moet maar
weer berg-af nadat reën voorspel is vir die nag en die volgende oggend.
Gelukkig het die res nie daarvoor kans gesien nie en het ek my maar berus om
enige weer die nag en die volgende dag te trotseer. Ons en die Buckles slaan
toe tene op onder die oorhang en die ander drie kruip toe net diep onder die
oorhangrots in. Daar het toe net ‘n paar druppels reën die aand geval.
Sondagoggend
was ‘n heerlike, windlose, koel oggend
en was ek baie bly ek was toe nog in die berge. Ons het in heerlike koel weer,
ideaal vir stap, die aftog aangedurf en ‘n bietjie hakeas uitgepluk en ‘n ander
roete af gekry . Onder by die rivier het ons toe eers heerlik geswem voordat
ons middagete geniet het en die terugreis aangepak het.
Die
Swellendamberge is pragtig in September en dit is ‘n gebied wat beslis meer
gestap kan word. Dalk sal ons paadjies dan ook nie so maklik toegroei nie en
sal ons nie met langbroeke hoef te stap om ons bene mooi te hou nie.
Christo Dippenaar het maar bietjie
gesukkel met burokrasie, soos telefoonboodskappe gelaat en nie antwoord gekry
nie. Gelukkig is hy ‘n deeglike man wat dinge lank genoeg vooraf reël om sulke
bultjies te bowe te kom. Ons vertrek te voet vanaf die parkeerplek onder die
akkerbome in Greyton om 9-uur. Koel dag, nie steil op nie en ook nie te ver op
nie, hoewel mens op dag 2 met die terugkeer respek gekry het vir hoe hoog jy
wel so maklik geklim het. Verby daardie eerste nek, klim jy 200 + meter weer
af, nou-eers in die kloof self: steil aan weerskante en onder-in net breed
genoeg vir die stroom water, met GROOT
berge weerskante. Ver voor (seker so 5-8 km) sien jy die eindpunt as nog ‘n
nek: dis waar oom Barry se paar netjiese huisies staan. Een het ons naam op
gehad: Dippenaar.
Jare gelede, toe beide Greyton en
McGregor nog lewensvatbare bevolkings van jongmanne had, het die twee dorpe se
rugbyspanne hierdie staptog moes aflê om teen mekaar te gaan kragte meet – mens
aanvaar dat hulle darem al die vorige dag gou oorgestap het, want dis 4-5 uur
soos ons geloop het, hoewel ‘n fit jong laitie dit seker in twee uur kan afdraf
EN dalk nog ‘n ‘game’ speel as hy so bietjie gerus het. Destyd se mense het ook
mos nie vir geld en skares gespeel en Boeings gery soos dit vandag gaan nie.
In die middel van die kloof-deel is
daar die bekende watergat: diep, en omtrent 30 m in deursnit. Twee ander groter
groepe het ook die kloof gestap, maar ons was gelukkig eerste by die watergat.
Nog nie somer genoeg gewees om regtig
te swem nie, hoewel party paslik ontklee en probeer het. Die laaste skof
voor die McGregor-kant het mens die keuse tussen die scenic- en die historiese
roetes. Ons het lg. op dag 2 gedoen: laer af in die kloof en regtig mooi. Die
historiese roete is steil en loop uit op die padmaakprojek wat baie jare gelede
laat vaar is. As mens die kranse en afgronde sien, kan jy darem verstaan waarom
die pad nooit klaargekom het nie. Goed so, anders sou die kloof nie meer vandag
gewees het wat hy nou is nie. Snaaks dat mens nou so sukkel om van die karre af
WEG te kom…
Die strooidakhuisie het lekker
geslaap, daar is lekker gebraai met die oom se verbasend-potent-hout, en ddar
was gekuier en dit was weer duidelik waarom mens aan die bergklub behoort. Die
terugstap was warmer maar nie ondraaglik nie, en die op-en af het gesorg dat
mens nie met seer bene gesit het nie. Sal dit weer doen – dankie Christo !
AFSLAG BY
STAPWINKELS
Weet jy dat jy met jou BKSA lidmaatskap afslag vir kontant
kan kry by sekere winkels? Afslag
wissel tussen 5-10%. Vra mooi en kyk
wat jy kan onderhandel. Hou jou
ledekaart byderhand. Cape Union Mart, Basecamp.
BERGREDDING
Enige persoon wat belangstel in Bergredding (om te help; nie om gered te word nie!!) kan
Claude Steenkamp bel 082 928 3106.
Die klub beskik oor ‘n aantal rugsakke (H-raam) wat kosteloos aan lede beskikbaar is om te
leen. Nogal nuttig in ‘n noodgeval as
jy skielik ‘n rugsak kort. Kontak
Charlie tel 913 5751
VIDEO LIBRARY
A
large selection of videos which can be borrowed from the Cape Town Section
Library. Philip van der Spuy, Honorary Librarian, Cape Town Section, Tel
794 1891.
SANGBUNDELS
Daar
is nog ‘n klompie Tygerberg Sangbundels by Carl Lombard beskikbaar, heeltemal GRATIS!
(Ons moet dalk weer begin sing.
Wat van ‘n stemtoets voor jy kan lid word!)
SAA
VOYAGER scheme
If
you have a Voyager number, please make an effort to supply the Honorary
Secretary, Jenny Paterson (secretary@mcsa.org.za), with your name, membership number and
Section as well as your Voyager number. There is no adverse consequences
whatsoever for a member vis a vis your personal Voyager account, but there is a
small "top up" advantage for the Club's Voyager account.
NEW ON THE BOOKSHELVES (or soon
to be)
SERPENT
SPIRES - by Duncan Souchon.
A
coffee table book on the last 50 years
of mountaineering in the Berg - 144 pages, 70+ colour pictures, 7 B&W pictures, illustrations, maps, routes - is
being published by Blue Mountain
Publishers. Pre-order before 31 December 2003 at 20% discount ie at R210
and
you will be entered into a draw for a
Karrimor Alpinist backpack and a First
Ascent fleece jacket. Contact Duncan Souchon (serpentspires@iafrica.com)
for more details about ordering.
KOMENDE AKTIWITEITE
Klubaand en oorslaap op Onrus:
Saterdag 8 November 2003
Let
op dat die datum van Vrydag 7 November na Saterdag 8 November verskuif is.
Tydens die vorige stap op Maanskynkop
het ons die Vrydagaand op Onrus geslaap en was daar 'n voorstel dat 'n klubaand
op Onrus goeie afwisseling kan wees.
Vir
die wat nie weet nie Onrus is net voor Hermanus en is dit ongeveer 1uur 15 minute
uit Tygerberg omgewing. Aangesien dit ongesond is om laataand na 'n lekker
kuier huis toe te ry word voorgestel dat daar oornag word en sal ons 'n dagstap
vir die Sondag reel om die ryery die moeite werd te maak. Indien mense vroeër
wil deurkom kan ons Saterdagmiddag ook gaan stap om die aptyd te wek.
Die
venue is Demperstraat 25 en is daar slaapplek in beddens vir 11 met genoeg plek
vir matrasse op die onderste of boonste stoep of opslaan van tentjies op die
grasperk of slaap onder die sterre.
Die
reelings is kortliks soos volg:
Saterdagmiddag
stap. Vertrek 14H00
vanaf Demperstraat 25 en stap die 12km kuspaadjie op Hermanus vanaf Grotto
beach tot by die nuwe hawe met 'n teebreek by 'n koffiewinkel naby die ou hawe.
Saterdagaand: Klubaand. Bring en braai vanaf
sononder (so ongeveer 7.00nm) tot middernag.
Sondag: Dagstap met eie middagete in
Fernkloof.
Net
'n laaste opmerking. Dit is primer 'n klubaand en nie 'n 'n stapnaweek nie. Die
stappe mag dus vir swem of kuier geruil word vir die wat dit so verkies.
Bel en bespreek asb vroegtydig
by Johan of Elmien by Tel 981-3860 of 083-235-5355
HEXRIVIER TRAVERSE: 13-16 Desember 2003
Charlie
Buckle soek nog tawwe Tygertiere om saam te stap. Die roete beloof om baie
mooi en indrukwekkend te wees.
(Al gehoor van “the rugged Hex”?)
Bel hom by 913 5751 (H)
Volgende
uitgawe: Artikels vir die volgende uitgawe moet asb
die Redakteur bereik voor 30 November
2003, verkieslik per e-pos of getik op “stiffy”.
altus.de_wet@capetown.gov.za
SOME LINKS TO RELATED WEB
PAGES