BERGNUUS

DIE BERGKLUB VAN SUID-AFRIKA

 

AFDELING TYGERBERG

POSBUS 4572       

7536 TYGERBERG

 

Desember 2004

 

 

 

Die jaar lê al weer op sy rug.    Dankie aan almal wat ‘n lekker jaar saam met ons kon deurstap.   Van  ‘n klompie lekker gesellige klubaande, deur die diep waters van die Kougarivier (Baviaanskloof),  die vrolike 25 Jaar Fees en so op die jaar se stert se laaste lid; die Swellendam voetslaanpad.  Dit was lekker.

 

Gelukwensing: Franclo Henning het onlangs gekwalifiseer as Neuroloog.  Baie geluk Franclo!  Saam met die berge kan jy help om ons koppe “oop” te hou!

 

Aan almal wat op vakansie gaan:  reis veilig en geniet dit!  Ons hoop ons sien julle vroeg in 2005 in die berg!   --Red.

 

 


PROGRAM 2005

 

 

Die bestuur en stapleiers het die laaste paar weke hard gewerk om die program vir 2005 gereed te kry.   Dis ingeluit by hierdie “Bergnuus”   Daar is talle heerlike stap en reisgeleenthede, ou bekendes en splinternuwes. 

 

Die grootse  is seker die beplande “trip” na Reunion aan die einde van September.  Kontak Carel en Sandra Lombard  (939 4846) so gou jy kan dat ons die toer op dreef kan kry.

 

Let ook op dat sommige van die stappe ‘n afsnydatum het waarop jy moet bespreek.   Die rede hiervoor is dat ons betyds permitte moet koop aangesien die ou jaarpermitstelsel nie meer bestaan nie.

 

 

VOORGESTELDE LEDEGELD 2005

 

 

Die bestuur van die Afdeling het op die volgende ledegeld vir 2005 goedgekeur.   Indien jy nog nie betaal het nie; kontak asb vir Verwey of Carl om te betaal en jou plakker en Joernaal te kry.

 

Enkellid

Getroude paar

Junior lid

Plattelandse lid

Plattelandse paar

140

190

35

115

140

 

Carl Lombard, Couchsingel 14, Oostersee, Parow       Tel 021-939 4846

Verwey Wiese, Cinsautstraat 18, Oude Westhof      Tel 021-913 0766

 

 

Die Baviaanskloof in die Ooskaap                       Ferdinand Botha

 

 

Of was dit nou ‘n ander kloof? Ons het in  Baviaanskloof gery en in ‘n ander een gestap. Meestal langs die Kougarivier, maar ook bo-oor ‘n paar berge. Soos in heel bo-oor ja. Nie vreeslik hoog nie, maar omdat die stap self  6 dae geduur het, was die rugsakke swaar. En daar was meestal nou nie juis ‘n pad nie.    Wel ‘n jeeptrack.    ‘n Wat??    Wag ek loop die hele storie vooruit…

 

Kom ons hou by die volgorde van  die tyd soos die heerlike 8 dae weg uit die stad stadig, en soms moeisaam, by ons verbygegly het. 3 Benkensteins, 3 Buckles, Jasper, Altus, Gerrit vZ, Kobus, Elsa, Ferdinand. 12 stuks.

 

Dag 1 is Donderdag laatmiddag waar ons pak en maak dat ons die stad in die truspieëls kry. Minstens so ver as Warmwaterberg anderkant Barrydale, waar ons tente opslaan en party  in ‘n chalet oornag. Daar word vleisgebraai, pap gemaak  en in die warm water rondgelê.

 

Dag 2 ry ons aan tot in die kloof, kyk na wildevywoude en die Strijdomplaas,  en oornag naby die Boswinkel. Daar word vleisgebraai, pap gemaak  en baie geskinder. Benkensteins  het volstruisgebraai. Die oom reken die reën kom. Die oom was reg. Die reën HET gekom, teen die oggend. Die tannie se 2 liter Coke het nooit gekom nie.

 

 

Dag 3 Ons slaan nat tente op en ry verder, bo-oor vreeslike hoë berge met hulle pieke in die wolke. Maar dis BAIE MOOI. Groen. Later rendezvous ons met Japie Buckle en familie. Charlie se boetie, wat  daardie wêreld glo ken. Later gehoor hy het nog nie gestap soos ons gestap het nie. Deels ja, maar die res te perd en te bakkie, en destyds was daar nog Jeeptrack gewees. Later groet  ons die ander Buckles en so,  en Japie sluit by ons aan vir die eerste 8 km tot waar ons onder ‘n oorhangende krans oornag. Dit reën heeldag (en heel nag). Daar word vleisgebraai (en 2-min noodles geëet) want danksy Jasper se vuuraanstekers het ons die nat hout aan die gang gekry, en die peperbosluise maak hulle opwagting. Bobbejane verwelkom ons in die kloof met luide boggoms. Ek het nie geweet die ou hoofman het altyd ‘n vakleerling met ongebreekte stem wat hom getrou naboots in al sy geboggommery nie, omtrent een oktaaf hoër. Hulle sit net oorkant die nou vallei, omtrent 70m weg. Ons slaap droog en weet hoe dit sou voel as ‘n tier jou in die nag kom optel.

 

Dag 4 breek vaal en reënerig. . Japie groet en gaan  terug. Ons stryk aan rivier-op vir omtrent 6 km en sukkel om die beplande uitdraai te kry. Verloor omtrent 2 uur. Dis hier waar Japie perdgery het, hoor ons later. Nou het die reën opgehou en ons styg vinnig. Verkeerde berg. Dis filosofies ‘n groot problem, veral as daar nie ‘n pad is nie… ómdat dit die verkeerde berg is. Altus se beroemde uitspraak: “Ons kry bo ‘n jeeptrack en dan is dit ‘plyn sylieng’. Die onwaarheid van hierdie profesie sou mettertyd tot ons almal deurkrap. Hy dra ‘n langbroek en word dus deur geen ding gekrap nie. Die son sak later en ons sukkel weer bietjie met waar om weer uit te draai. Genadiglik is daar twee GPS instrumente waarsonder dit regtig sou lol. Die jeeptracks sou vir dag  4 nog kon deurgaan as sulks. Ons jaag reisies met die son en kom skemer op Diepkloof aan. Water is nie in was-hoeveelhede beskikbaar nie. Daar is minder mense wat vleisbraai (en daar word 2- min noodles geëet) . Niemand sien kans om in die vervalle huisie te slaap nie. Die nonnetjiesuile roep aanhoudend. Mooi. Die verste, verste punt van ons stap. Mens wonder hoe op aarde dit ekonomies regverdigbaar was om in daai wêreld pad te maak na amper niks. Seker maar belastinggeld gewees.

 

Dag 5 breek helder en mooiweer aan. Ons stryk aan na Dieprivier die plaas, wat oor een berg lê. Daar sien ons die inwonende koedoes, en ons bad heerlik in die stroom. Bekyk die verlate plaas-opstal en bestyg dan die grootste berg van die stap – 900m hoog. Temperature loop hoog. Charlie (Erica) se rug (voet) keil hom (haar) op, wat ‘n genade is want so kan die uwe so amper bybly. Die pad is lank. Pad?? Nee, dis nou net hier waar die definisie van ‘n jeeptrack verander na ‘n lang streep proteas wat krap op die rou plekke veral diegene sonder langbroeke. Heeltemal toegegroei. En dan praat ons nog  nie van gebrande proteas nie. Dié krap nog beter. En Altus dra ‘n langbroek. Die uitsigte is mooi. Baie berge met geen teken van mensebeskawing nie, behalwe die vervalle telefoonlyn na die plaas toe. Een plek is die “jeeptrack” so weggespoel dat jy ‘n groot lorrie in die gat kan begrawe. Hier het Japie natuurlik ge4x4, ten minste, voor die lorriegat daar was en die plaas nog bewoon was. So 8 jaar vantevore. Pootseer en voos gekrap kom ons op Riverside Lodge aan: ‘n mooi sandstrand waar die volmaan te mooi opkom oor die rivier se draai. Daar word deur nog drie mense vleisgebraai, en 2-min noodles geëet). Sowaar. Goed-ryp vleis. Die kuiers saans is kosbaar. Sag lê die lyf wat moeg is, teen hierdie tyd gewénd aan die 10mm matrassie.

 

Dag 6 breek aan met die mooiste miswolk oor die kampplek. Dit lyk soos ‘n sprokie. Die ergste is agter die rug. Sakke begin voelbaar ligter raak en die berge lê hakskeenkant. Die rivier-oorstekery is tonekant. Sommige tone is blou, ander se voete is opgeblase. Die gewone plesiertjies van stap.

 

Paar maal moes ons die waters trotseer. Ons pak ons kameras droog in (en neem dus minder foto’s). Loop elande raak – hulle doen ‘n rivieroorsteek in BAIE minder tyd as ons. Charlie trap amper op ‘n kobra. Die slang besluit hy gee liewer pad: maak versigtig lyf nat en swem grasieus weg oor die rivier. Kronkel kronkel kronkel, met die kop net bo die water. By sy ma geleer in die slangskool. Ons kry ‘n reuseskilpad en Andrea poseer saam met hom vir ‘n mooi foto. Terug by die huis het ek bietjie op hierdie snaakse naam ingegaan – wat skil hy dan nou in die pad??? Duits vir ‘n padda (toad) is Kröte, en vir skild is  Schild. Dus Schildkröte, letterlik skildpadda. Daar het jy dit – verloor net hier en daar ‘n letter en die ding word ‘n skilpad. Laatmiddag loop ons teen ‘n dam vas – weerskante kranse en die water is baie dieper as beenlengte. Verkenner Altus se kop het skielik onder die water weggeraak, dis hoe ons weet van die diepte. Besluit om eers te slaap en die swem vir die oggend te los sodat mens weer kan droogmaak in die sonnetjie. Dit was hier êrens wat ons die enigste duidelike antwoord van ‘n baviaan  af gekry het, maar nie as iemand “Boggom!” skree nie, daarvoor praat ons seker te sleg Baviaans – ek het net van harte op volsterkte genies dat die kranse antwoord gee, en die bobbejaan se antwoord was: “Boggom??” Almal het heerlik gelag. Die kamp maak voorsiening vir die mense op die bult, die middelstes waar die vuur en kuierplek was, en die onderstes. Snaaks hoe die beskawing mens soms agtervolg… Die praat is oor hoe om agter jou rugsak aan te swem en hoeveel gate toegeplak moet word. Jasper trek ‘n rooi plastieksak oor sy kop, en Gerrit verduidelik dat wanneer hy versmoor en omval, dan weet ons die sak is diggeplak. Wraggies nog steeds een ou wat vleisbraai. En daar word 2-min noodles geëet. Dit moet een of ander rekord wees. (Die vleis EN die noodles).

 

Dag 7 staan in die teken van swem. Met stewels. Teen hierdie tyd het meeste agtergekom dis baie makliker om die stewels maar net aan te hou, water in en water uit. Die rugsakke dryf te pragtig, veral as jy ‘n reënjassie vir hom het. Ons vorder fluks, al onder die bome langs, en kom later by ‘n nekkie waaroor ons gaan om ‘n kronkel in die rivier uit te sny. Net 100m hoog. Hier het die elande en ander bokke  so ‘n duidelike pad oopgetrap dat dit die beste pad van die stap was. Deur hierdie kortpad te neem, skakel ons 6 km uit, en kom tereg op Vetmaakvlakte vir die laaste nag op die stap. Elsa het hier die donderbossie-genus ontdek… en nogeens was daar noodles geëet… Acacia Caffaris of Caffra of iets glo. Klaar geëet lê ek op my rug om die sterre ‘n slag goed te bekyk noudat dit bietjie verby volmaan is, en HIER KOM ‘N GROOT KLIP UIT DIE RUIMTE verby! Baie helder, doodstil, en doen omtrent 90 grade van die 180 van die uitspansel bo ons in omtrent 4 sekondes voor hy verdwyn. Nie uitgebrand nie, maar verder gevlieg. ‘n Volle minuut later hoor ons hom eers: net soos ‘n redelik veraf, maar harde donderslag wat ‘n paar sekondes lank dreun, diep en onheilspellend, natuurlik die supersoniese skokgolf. Grote gewees. Aangrypend. Mens voel klein en weerloos  in die heelal, want as daai ding naby  ons moes tref….

 

Wat ‘n pragtige afsluiting van ‘n vuurwerk vir ons stap se laaste aand!

 

Dag 8 het net 6 km stap oor en ons is teen middag terug by die wiele en dakke, wat ons stewels en hoede vervang. Iets om baie dankbaar voor te wees. Ons ry Rooihoek (waar ons was en eet) en Doodsklip (waar ons die Madagaskariër met sy fiets ontmoet), twee kampeerplekke, langs en later uit die Baviaanskloof uit tot op die le Rouxs se plaas. Moeder Benkenstein kon nie haar hande uit die fietsman se sakke hou nie, want hy het beweer hy weet nie waar hy is nie en ook nie waarheen om te gaan nie. Was net seker daarvan dat hy in Afrika lekker bergfiets trap. Die plaasmense later  sukkel om ons en ons behoeftes te verstaan: baie bier, vars kos en slaapplek. Die aand en nag word in hulle uitstekende kamp deurgebring waar VIR ons gekook word: ‘n hoenderpot en ‘n afvalpot met vars brood, slaai  en Patensiesteaks (aartappels).. Ons eet almal te veel en sukkel om te slaap op die sagte matrasse, en die paddakoor sing sleg die hele nag lank. 9-uur was ons almal in die bed, nog voor die mense terugry huis toe, nog iets wat hulle gladnie kon verstaan nie. Is mos gewoond die mense wat gewoonlik daar bly, kuier die nag moeg. Al daai vir net R70 per kop!

 

Dag 9 is terugry via Humansdorp. Die groep versplinter. Dis verby. Ons bene is opgeswel, baie is erg deur die bosluise verniel, party kry bosluiskoors. Daai plek is bietjie wild ja. Maar ‘n uitvars soos jy ver voor sal soek. Die wonderwerk in my persoonlike lewe: Nie ‘n enkele bosluis op my nie!.

 

8 dae later hou ons alweer reünie. Danksy die syferkamera-era, is daar BAIE foto’s. Julle kan kom kyk. Ons het bewyse vir elke bewering in hierdie dokument, behalwe die vuurbal en die kobra. En die elande. En die koedoes. En die arme reuseskilpad wat aan’t sterwe was.  Mens se kamera was in ‘n plastieksak binne-in ‘n Tupperbak binne-in die rugsak.

 

Totale afstand gestap in 6 dae: 62 km. Die ander statistieke is by Altus verkrygbaar.

Dankie Charlie, dit het my aan die PW Botha en Seuns -era herinner: hard, lekker, maar nie weer nie, dankie! Het die Internet gecheck en nie iets opspraakwekkends gekry oor die meteoriet nie. Seker omdat dit aan die agterkant van die aarde gebeur het, soos die Amerikaners mos die planeet beskou.

 

Hier volg detail van PC en Viana le Roux se kuierplek soos ons hulle beloof het: 

Tel 042 283 0695 of per e-pos  rooinek@igen.co.za

 

 

 

International Climbing Meet At Magaliesberg, Cederberg Kloof

 

The Mountain Club of South Africa has invited climbers from all over the world to take part in an international climbing meet in South Africa. The meet will run from 23.4.2005 to 1.5.2005. We will have as a base the Mountain Club property at Cederberg Kloof,  Magaliesberg. The climbing areas of Cederberg Kloof, Tonquani and Boulder Kloof are within walking distance. Many other Kloofs in the Magaliesberg will be visited, all within 30 minutes driving distance. From there we will have two to four day trips to other climbing venues, such as Blouberg, Krantzberg, Hanglip, Waterval Boven and the Drakensberg, each of them a prime climbing area. We will also offer day-hikes in the Magaliesberg or two to three day hikes in the Drakensberg to above 3000m.

 

We hope to introduce visiting climbers to some of South Africa's premier and most accessible climbing destinations and to give our MCSA members the opportunity to make contact and friends with overseas climbers from which they might benefit in the future. Anyone interested in joining the meet and acting as climbing partner cum guide for our guests or willing to help in any other way, especially with transport between the climbing areas, must please contact Ulrike Kiefer at ukiefer@icon.co.za. More details will be available on the MCSA website http://www.mcsa.org.za/. Logistics demand that we limit the total number of people, so an early booking is advised.

 

Generally the climbs are all on trad gear (traditional), but we will be visiting sport-climbing venues as well, especially Waterval Boven. Most crags are within protected areas and our visitors will most likely see monkeys, baboons, the odd buck, eagles and vultures.

 

All participants will have to bring their own tent, sleeping bags and standard overnight camping equipment. This is a self-catering camp. We will arrange regular trips to local supermarkets and shops stocking a large variety of food items. Safe water is available from local streams. Expected temperatures are +25C to +30C during the day and +10C at night. However temperatures in the Drakensberg will be lower and can go down to close to freezing point.

 

 

RIGHT FACE ARROW FACE - TAFELBERG

 

 

Net vier lede het opgedaag vir ‘n heerlike klim aan die voorkant van Tafelberg.  Die roete begin op die kontoerpad en dan in Union Ravine op en later na regs op in Yellowstone Gulley.  Dit is aan die regterkant van Platteklip Gorge.  Hiervandaan het ‘n mens ‘n mooi uitsig op Tafelbaai en selfs Kampsbaai, met die Bolandse berge in die agtergrond.

 

Na ‘n steil stukkie klim en natgesweet, het ons lafenis in die skaduwee gesoek vir teetyd.

 

Hierna volg die opwindende deel waar ‘n mens vir omtrent 500 m verbyskuur agter ‘n rotswand wat weggebreek het van die berg.  Hier voel jy klein, want dit voel of jy letterlik in die berg se  maag klouter.  Aan die einde van die skeur kom ‘n mens omtrent onder die kabels van die kabelkarretjie uit.

 

Op ‘n stadium klim ons af teen ‘n rotslysie en Erica is aan die onderkant.  Sy skree en Christo dink sy skrik vir ‘n slang.  Hy probeer so gou moontlik ondertoe te klim en weer skree Erica.  Toe was daar nooit ‘n slang nie, maar elke keer Christo wat op Erica se vingers trap!  Jammer Erica!

 

Met ‘n vroeë middagete ontspan ons in die skadu van Fountain Ledge.  Hiervandaan is daar ‘n mooi uitsig oor Kampsbaai en die Twaalf Apostels.  Die pad terug is af in Platteklip en te gou is alles oor en ons is terug by die motors.

 

CHRISTO DIPPENAAR

 

 


DIE AFDELING SE 25 JARIGE VERJAARDAGFEES

 

Die klub se 25 Jarige bestaan is herdenk tydens ‘n lekker fesie gehou by Beaverlac in die Groot Winterhoekberge die naweek van 20-21 November 2004.  Die party  het sommer die Vrydagaand al begin toe meeste van die feesgangers al ingetrek het.  Tente is opgeslaan en’n lekker groot kuiervuur is aangesteek. 

 

Die Saterdag is daar  2 stappe gereël, ‘n korte vir die luies, vakes en nuwes, en ‘n langer stap vir gewone lede.  Albei stappe is goed bygewoon en was volgens oorlewering heel plesierig.  (die skrywer was olik) Party was pienk ook, van die son.   Sommige het eenvoudig luilekker rondgehang of in die heerlike rotspoele gaan plas.

 

Die hoofffees was eintlik Saterdagaand:  Stoele is uitgepak in laer- of kerkformasie en ‘n paar lekker vure is opgesteek.  Johan Botha (Voorsitter) het ‘n kort praatjie (hy wil dit nie ‘n toespraak noem nie) gelewer.  ‘n Paar ouer lede het stories vertel.   Veral Neil (Divvie) de Villiers het ‘n paar lagtrane laat rol met sy tipiese stories.  Erna (in Gerrit se afwesigheid) het self ‘n paar lekker stories uitgekrap en Tonie Roux (al die pad van Worcester) het ons vermaak (en ingelig)  met stories van stigtingsdae van die klub.

 

Die aand het lekker verloop.  So teen die laatnag het Sandra (Lombard) ons verras met ‘n heerlike soet verrassing:  koek en roomys (jou punte styg Sandra!).

 

Sondagoggend het die weer ons onkant gevang met ‘n sagte reëntjie, net genoeg rede om bietjie laat in te lê.  Later het Doom Barend vir ons ‘n vrolike kerkdiens gehou, kompleet met gesange en als.   Nog ‘n stap is aangebied vir diegene wie se gô’s nog nie uit was nie.  Die ander het lui lui begin oppak vir die steil modderbult op pad terug.

 

Dit was ‘n bees van ‘n fees en as die 25 so lekker was; hoe lekker gaan die 50 nie wees nie!

 

Altus de Wet

 


Shackleton Valley   27-28 November 2004

 

Die plek en die storie van die ongelukkige vliegtuig het my nog altyd gekielie.  En omtrent op die dag; 5 jaar later het ons weer die stap gaan doen. Net ek ek, Charlie en Cobus.   En Andries was ons logistiekbestuurder (m.a.w. hy het ons by Stetteynskloof gaan aflaai)

 

Ons het die Vrydagaand gaan kamp ons Stetteynskloofdam se damwal; dis so 15km van Rawsonville, in die hart van die Du Toitsberge (kyk maar self op ‘n kaart).    Lekker geslaap op die sagte groen gras, na ‘n lekker braaitjie en versnaperinge.  Andries het ook nie kans gesien vir terugry op die smal grond-pas nie en het (in geleende klere) in sy kar geslaap.

 

Saterdagoggend het ons vroegerig in die pad geval:  eers net op teen die damwal; dan al langs die noordelike oewer van die dam in die rigitng van Elandskloof.  Baie mooi, MAAR, baie dig toegegroei.  Ons skat dit het vyf jaar laas gebrand; kort voor ons vorige trip.   Veral in die waterlope is die boskasies byna ondeurdringbaar hoog en dig.  Mens is skoon sat as jy weer anderkant “surface”  En dit was warm.

 

Middag-ete het ons “by waters waar rus (en koelte) is” deurgebring; langs ‘n stroompie in die skadu van ‘n Withoutboom.  Salig. 

 

Maar sodra mens uit die klofie uitklim en in die klam hitte deur die bosse stoei, is die koelte gou vergete.   Ons moet voort.  Die plan is om aan die bo-punt van die kloof te kamp (en nie oor te klim na die Elandskloof vallei nie).

 

Ons hou ons oë oop vir die oorblyselfs van die Shackleton wrak.  Ek was heel opgewonde toe ons eers net deel van ‘n vlerk opspoor.  Ons soek verder.  ‘n Goeie 500m verder lê die grootste deel van die wrak in ‘n klofie.  Dit lyk asof die vliegtuig teen ‘n nek gebots en toe in die klofie afgeskuif het (teen spoed!).  Dis spookagtig om tussen die stukke  rond te snuffel:  die skroewe; ‘n paar vensters, dele van die enjins, rubberpype (nog sag), verbrande elektriese drade en selfs stukke seil.  Was dit sitplekke?

 

Die vliegtuig het op 8 Augustus 1963 in uiters swak weer hier neergestort.   Die vlieënier het blykbaar onder die wolke probeer deurvlieg, ‘n navigasiefout begaan en die rots-nekkie getref.

Al 14 mense aan boord is op slag dood.  Net daar.  Die vliegtuig was op pad na ‘n lugskou in PE.  Daardie dae was dit nog nuut en ‘n vertoonstuk (dis in 1957) gebou.  ‘n Klein gedenkplaat merk die ongelukkige plek.

 

Mens stap in stilte verder.   Ons kom nader die einde van die kloof en die son trek water.   Ek bemerk ‘n platterige deel en oortuig Charlie om kamp op te slaan (was nie baie moeilik nie!)   Van ons kampplek het ons ‘n praguitsig op Pinnacle Kloof.   ‘n Pragtige massiewe rotsvinger wat die ingang na die kloof merk.   Dis blykbaar ‘n heel gangbare roete na bo.

 

Die laatmiddag en aand is pragtig as die son die kranse en en rotsvinger rooi inkleur.  En dan die sterre.

 

Sondagoggend vat ons dit rustig.   Die voetpad is naby, maar dan nog nie (nare) jeeppad.  Ons kies ‘n skuins roete teen die laaste nek uit.  Van bo kyk mens and na Elandskloof (wes) en Stetteynskloof (Holsloot) (oos). Onder in die Elandskloof vallei doen ons eers ‘n lekker swem in ‘n bergpoel, by een van Charlie se ou kampplekke.  Dan slaan ons die voetpad en later die jeeppad op pad terug na ons kar by Du Toitskloof Hut.  

 

Elf kilometer later is my Golf darem nog daar.  In die lekker skadu van die groot bome by die hut, eet ons ons laaste broodjies op, rus bietjie, kry geen bier van die Kaapse lede wat daar werk nie en ry huis toe.

 

Altus de Wet