DIE BERGKLUB VAN SUID-AFRIKA
AFDELING
TYGERBERG
POSBUS
4572
Desember
2004
Die jaar lê al weer op sy rug. Dankie aan almal wat ‘n lekker jaar saam met ons kon
deurstap. Van ‘n klompie lekker gesellige klubaande, deur
die diep waters van die Kougarivier (Baviaanskloof), die vrolike 25 Jaar Fees en so op die jaar se stert se laaste
lid; die Swellendam voetslaanpad. Dit
was lekker.
Gelukwensing: Franclo Henning het onlangs gekwalifiseer as
Neuroloog. Baie geluk Franclo! Saam met die berge kan jy help om ons koppe
“oop” te hou!
Aan almal wat op vakansie gaan: reis veilig en geniet dit!
Ons hoop ons sien julle vroeg in 2005 in die berg! --Red.
PROGRAM 2005
Die bestuur en stapleiers het die laaste paar weke
hard gewerk om die program vir 2005 gereed te kry. Dis ingeluit by hierdie “Bergnuus” Daar is talle heerlike stap en reisgeleenthede, ou bekendes en
splinternuwes.
Die grootse is seker
die beplande “trip” na Reunion aan die einde van September. Kontak Carel en Sandra Lombard (939 4846) so gou jy kan dat ons die toer op
dreef kan kry.
Let ook op dat sommige van die stappe ‘n afsnydatum het
waarop jy moet bespreek. Die rede
hiervoor is dat ons betyds permitte moet koop aangesien die ou
jaarpermitstelsel nie meer bestaan nie.
Die
bestuur van die Afdeling het op die volgende ledegeld vir 2005 goedgekeur. Indien jy nog nie betaal het nie; kontak
asb vir Verwey of Carl om te betaal en jou plakker en Joernaal te kry.
|
Enkellid |
Getroude paar |
Junior lid |
Plattelandse lid |
Plattelandse paar |
|
140 |
190 |
35 |
115 |
140 |
Carl Lombard,
Couchsingel 14, Oostersee, Parow Tel
021-939 4846
Verwey Wiese, Cinsautstraat 18, Oude Westhof Tel 021-913 0766
Die Baviaanskloof in die
Ooskaap Ferdinand Botha
Of was dit nou ‘n ander kloof? Ons
het in Baviaanskloof gery en in ‘n
ander een gestap. Meestal langs die Kougarivier, maar ook bo-oor ‘n paar berge.
Soos in heel bo-oor ja. Nie vreeslik hoog nie, maar omdat die stap self 6 dae geduur het, was die rugsakke swaar. En
daar was meestal nou nie juis ‘n pad nie.
Wel ‘n jeeptrack. ‘n
Wat?? Wag ek loop die hele storie
vooruit…
Kom ons hou by die volgorde
van die tyd soos die heerlike 8 dae weg
uit die stad stadig, en soms moeisaam, by ons verbygegly het. 3 Benkensteins, 3
Buckles, Jasper, Altus, Gerrit vZ, Kobus, Elsa, Ferdinand. 12 stuks.
Dag 1 is Donderdag laatmiddag waar
ons pak en maak dat ons die stad in die truspieëls kry. Minstens so ver as
Warmwaterberg anderkant Barrydale, waar ons tente opslaan en party in ‘n chalet oornag. Daar word vleisgebraai,
pap gemaak en in die warm water
rondgelê.
Dag 2 ry ons aan tot in die kloof,
kyk na wildevywoude en die Strijdomplaas,
en oornag naby die Boswinkel. Daar word vleisgebraai, pap gemaak en baie geskinder. Benkensteins het volstruisgebraai. Die oom reken die reën
kom. Die oom was reg. Die reën HET gekom, teen die oggend. Die tannie se 2 liter
Coke het nooit gekom nie.
Dag 3 Ons slaan nat tente op en ry
verder, bo-oor vreeslike hoë berge met hulle pieke in die wolke. Maar dis BAIE
MOOI. Groen. Later rendezvous ons met Japie Buckle en familie. Charlie se
boetie, wat daardie wêreld glo ken.
Later gehoor hy het nog nie gestap soos ons gestap het nie. Deels ja, maar die res
te perd en te bakkie, en destyds was daar nog Jeeptrack gewees. Later
groet ons die ander Buckles en so, en Japie sluit by ons aan vir die eerste 8
km tot waar ons onder ‘n oorhangende krans oornag. Dit reën heeldag (en heel
nag). Daar word vleisgebraai (en 2-min noodles geëet) want danksy Jasper se
vuuraanstekers het ons die nat hout aan die gang gekry, en die peperbosluise
maak hulle opwagting. Bobbejane verwelkom ons in die kloof met luide boggoms.
Ek het nie geweet die ou hoofman het altyd ‘n vakleerling met ongebreekte stem
wat hom getrou naboots in al sy geboggommery nie, omtrent een oktaaf hoër.
Hulle sit net oorkant die nou vallei, omtrent 70m weg. Ons slaap droog en weet
hoe dit sou voel as ‘n tier jou in die nag kom optel.
Dag 4 breek vaal en reënerig. .
Japie groet en gaan terug. Ons stryk
aan rivier-op vir omtrent 6 km en sukkel om die beplande uitdraai te kry.
Verloor omtrent 2 uur. Dis hier waar Japie perdgery het, hoor ons later. Nou
het die reën opgehou en ons styg vinnig. Verkeerde berg. Dis filosofies ‘n
groot problem, veral as daar nie ‘n pad is nie… ómdat dit die verkeerde berg
is. Altus se beroemde uitspraak: “Ons kry bo ‘n jeeptrack en dan is dit ‘plyn
sylieng’. Die onwaarheid van hierdie profesie sou mettertyd tot ons almal deurkrap.
Hy dra ‘n langbroek en word dus deur geen ding gekrap nie. Die son sak later en
ons sukkel weer bietjie met waar om weer uit te draai. Genadiglik is daar twee
GPS instrumente waarsonder dit regtig sou lol. Die jeeptracks sou vir dag 4 nog kon deurgaan as sulks. Ons jaag
reisies met die son en kom skemer op Diepkloof aan. Water is nie in
was-hoeveelhede beskikbaar nie. Daar is minder mense wat vleisbraai (en daar
word 2- min noodles geëet) . Niemand sien kans om in die vervalle huisie te
slaap nie. Die nonnetjiesuile roep aanhoudend. Mooi. Die verste, verste punt
van ons stap. Mens wonder hoe op aarde dit ekonomies regverdigbaar was om in
daai wêreld pad te maak na amper niks. Seker maar belastinggeld gewees.
Dag 5 breek helder en mooiweer
aan. Ons stryk aan na Dieprivier die plaas, wat oor een berg lê. Daar sien ons
die inwonende koedoes, en ons bad heerlik in die stroom. Bekyk die verlate
plaas-opstal en bestyg dan die grootste berg van die stap – 900m hoog.
Temperature loop hoog. Charlie (Erica) se rug (voet) keil hom (haar) op, wat ‘n
genade is want so kan die uwe so amper bybly. Die pad is lank. Pad?? Nee, dis
nou net hier waar die definisie van ‘n jeeptrack verander na ‘n lang streep
proteas wat krap op die rou plekke veral diegene sonder langbroeke. Heeltemal
toegegroei. En dan praat ons nog nie
van gebrande proteas nie. Dié krap nog beter. En Altus dra ‘n langbroek.
Die uitsigte is mooi. Baie berge met geen teken van mensebeskawing nie, behalwe
die vervalle telefoonlyn na die plaas toe. Een plek is die “jeeptrack” so
weggespoel dat jy ‘n groot lorrie in die gat kan begrawe. Hier het Japie
natuurlik ge4x4, ten minste, voor die lorriegat daar was en die plaas nog
bewoon was. So 8 jaar vantevore. Pootseer en voos gekrap kom ons op Riverside
Lodge aan: ‘n mooi sandstrand waar die volmaan te mooi opkom oor die rivier se
draai. Daar word deur nog drie mense vleisgebraai, en 2-min noodles geëet).
Sowaar. Goed-ryp vleis. Die kuiers saans is kosbaar. Sag lê die lyf wat moeg
is, teen hierdie tyd gewénd aan die 10mm matrassie.
Dag 6 breek aan met die mooiste
miswolk oor die kampplek. Dit lyk soos ‘n sprokie. Die ergste is agter die rug.
Sakke begin voelbaar ligter raak en die berge lê hakskeenkant. Die
rivier-oorstekery is tonekant. Sommige tone is blou, ander se voete is
opgeblase. Die gewone plesiertjies van stap.
Paar maal moes ons die waters
trotseer. Ons pak ons kameras droog in (en neem dus minder foto’s). Loop elande
raak – hulle doen ‘n rivieroorsteek in BAIE minder tyd as ons. Charlie trap
amper op ‘n kobra. Die slang besluit hy gee liewer pad: maak versigtig lyf nat
en swem grasieus weg oor die rivier. Kronkel kronkel kronkel, met die kop net
bo die water. By sy ma geleer in die slangskool. Ons kry ‘n reuseskilpad en
Andrea poseer saam met hom vir ‘n mooi foto. Terug by die huis het ek bietjie
op hierdie snaakse naam ingegaan – wat skil hy dan nou in die pad??? Duits vir
‘n padda (toad) is Kröte, en vir skild is
Schild. Dus Schildkröte, letterlik skildpadda. Daar het jy dit – verloor
net hier en daar ‘n letter en die ding word ‘n skilpad. Laatmiddag loop ons
teen ‘n dam vas – weerskante kranse en die water is baie dieper as beenlengte.
Verkenner Altus se kop het skielik onder die water weggeraak, dis hoe ons weet
van die diepte. Besluit om eers te slaap en die swem vir die oggend te los
sodat mens weer kan droogmaak in die sonnetjie. Dit was hier êrens wat ons die
enigste duidelike antwoord van ‘n baviaan
af gekry het, maar nie as iemand “Boggom!” skree nie, daarvoor praat ons
seker te sleg Baviaans – ek het net van harte op volsterkte genies dat die
kranse antwoord gee, en die bobbejaan se antwoord was: “Boggom??” Almal het
heerlik gelag. Die kamp maak voorsiening vir die mense op die bult, die
middelstes waar die vuur en kuierplek was, en die onderstes. Snaaks hoe die
beskawing mens soms agtervolg… Die praat is oor hoe om agter jou rugsak aan te
swem en hoeveel gate toegeplak moet word. Jasper trek ‘n rooi plastieksak oor
sy kop, en Gerrit verduidelik dat wanneer hy versmoor en omval, dan weet ons die
sak is diggeplak. Wraggies nog steeds een ou wat vleisbraai. En daar word 2-min
noodles geëet. Dit moet een of ander rekord wees. (Die vleis EN die noodles).
Dag 7 staan in die teken van swem.
Met stewels. Teen hierdie tyd het meeste agtergekom dis baie makliker om die
stewels maar net aan te hou, water in en water uit. Die rugsakke dryf te
pragtig, veral as jy ‘n reënjassie vir hom het. Ons vorder fluks, al onder die
bome langs, en kom later by ‘n nekkie waaroor ons gaan om ‘n kronkel in die
rivier uit te sny. Net 100m hoog. Hier het die elande en ander bokke so ‘n duidelike pad oopgetrap dat dit die
beste pad van die stap was. Deur hierdie kortpad te neem, skakel ons 6 km uit,
en kom tereg op Vetmaakvlakte vir die laaste nag op die stap. Elsa het hier die
donderbossie-genus ontdek… en nogeens was daar noodles geëet… Acacia Caffaris
of Caffra of iets glo. Klaar geëet lê ek op my rug om die sterre ‘n slag goed
te bekyk noudat dit bietjie verby volmaan is, en HIER KOM ‘N GROOT KLIP UIT DIE
RUIMTE verby! Baie helder, doodstil, en doen omtrent 90 grade van die 180 van
die uitspansel bo ons in omtrent 4 sekondes voor hy verdwyn. Nie uitgebrand
nie, maar verder gevlieg. ‘n Volle minuut later hoor ons hom eers: net soos ‘n
redelik veraf, maar harde donderslag wat ‘n paar sekondes lank dreun, diep en
onheilspellend, natuurlik die supersoniese skokgolf. Grote gewees. Aangrypend.
Mens voel klein en weerloos in die
heelal, want as daai ding naby ons moes
tref….
Wat ‘n pragtige afsluiting van ‘n
vuurwerk vir ons stap se laaste aand!
Dag 8 het net 6 km stap oor en ons
is teen middag terug by die wiele en dakke, wat ons stewels en hoede vervang.
Iets om baie dankbaar voor te wees. Ons ry Rooihoek (waar ons was en eet) en
Doodsklip (waar ons die Madagaskariër met sy fiets ontmoet), twee
kampeerplekke, langs en later uit die Baviaanskloof uit tot op die le Rouxs se
plaas. Moeder Benkenstein kon nie haar hande uit die fietsman se sakke hou nie,
want hy het beweer hy weet nie waar hy is nie en ook nie waarheen om te gaan
nie. Was net seker daarvan dat hy in Afrika lekker bergfiets trap. Die
plaasmense later sukkel om ons en ons
behoeftes te verstaan: baie bier, vars kos en slaapplek. Die aand en nag word
in hulle uitstekende kamp deurgebring waar VIR ons gekook word: ‘n hoenderpot
en ‘n afvalpot met vars brood, slaai en
Patensiesteaks (aartappels).. Ons eet almal te veel en sukkel om te slaap op
die sagte matrasse, en die paddakoor sing sleg die hele nag lank. 9-uur was ons
almal in die bed, nog voor die mense terugry huis toe, nog iets wat hulle
gladnie kon verstaan nie. Is mos gewoond die mense wat gewoonlik daar bly,
kuier die nag moeg. Al daai vir net R70 per kop!
Dag 9 is terugry via Humansdorp.
Die groep versplinter. Dis verby. Ons bene is opgeswel, baie is erg deur die
bosluise verniel, party kry bosluiskoors. Daai plek is bietjie wild ja. Maar ‘n
uitvars soos jy ver voor sal soek. Die wonderwerk in my persoonlike lewe: Nie
‘n enkele bosluis op my nie!.
8 dae later hou ons alweer reünie.
Danksy die syferkamera-era, is daar BAIE foto’s. Julle kan kom kyk. Ons het
bewyse vir elke bewering in hierdie dokument, behalwe die vuurbal en die kobra.
En die elande. En die koedoes. En die arme reuseskilpad wat aan’t sterwe
was. Mens se kamera was in ‘n
plastieksak binne-in ‘n Tupperbak binne-in die rugsak.
Totale afstand gestap in 6 dae: 62
km. Die ander statistieke is by Altus verkrygbaar.
Dankie Charlie, dit het my aan die
PW Botha en Seuns -era herinner: hard, lekker, maar nie weer nie, dankie! Het
die Internet gecheck en nie iets opspraakwekkends gekry oor die meteoriet nie.
Seker omdat dit aan die agterkant van die aarde gebeur het, soos die
Amerikaners mos die planeet beskou.
Hier volg detail van PC en Viana
le Roux se kuierplek soos ons hulle beloof het:
Tel 042
283 0695 of per e-pos rooinek@igen.co.za
The Mountain Club of
South Africa has invited climbers from all over the world to take part in an
international climbing meet in South Africa. The meet will run from 23.4.2005
to 1.5.2005. We will have as a base the Mountain Club property at Cederberg
Kloof, Magaliesberg. The climbing areas
of Cederberg Kloof, Tonquani and Boulder Kloof are within walking distance.
Many other Kloofs in the Magaliesberg will be visited, all within 30 minutes
driving distance. From there we will have two to four day trips to other
climbing venues, such as Blouberg, Krantzberg, Hanglip, Waterval Boven and the
Drakensberg, each of them a prime climbing area. We will also offer day-hikes
in the Magaliesberg or two to three day hikes in the Drakensberg to above
3000m.
We hope to introduce
visiting climbers to some of South Africa's premier and most accessible
climbing destinations and to give our MCSA members the opportunity to make
contact and friends with overseas climbers from which they might benefit in the
future. Anyone interested in joining the meet and acting as climbing partner
cum guide for our guests or willing to help in any other way, especially with
transport between the climbing areas, must please contact Ulrike Kiefer at ukiefer@icon.co.za. More details will be
available on the MCSA website http://www.mcsa.org.za/.
Logistics demand that we limit the total number of people, so an early booking
is advised.
Generally the climbs
are all on trad gear (traditional), but we will be visiting sport-climbing
venues as well, especially Waterval Boven. Most crags are within protected
areas and our visitors will most likely see monkeys, baboons, the odd buck,
eagles and vultures.
All participants will
have to bring their own tent, sleeping bags and standard overnight camping
equipment. This is a self-catering camp. We will arrange regular trips
to local supermarkets and shops stocking a large variety of food items. Safe water is available from local streams. Expected
temperatures are +25C to +30C during the day and +10C at night. However
temperatures in the Drakensberg will be lower and can go down to close to
freezing point.
RIGHT FACE ARROW FACE -
TAFELBERG
Net vier lede het opgedaag vir ‘n
heerlike klim aan die voorkant van Tafelberg. Die roete begin op die
kontoerpad en dan in Union Ravine op en later na regs op in Yellowstone
Gulley. Dit is aan die regterkant van Platteklip Gorge. Hiervandaan het ‘n mens ‘n mooi uitsig op
Tafelbaai en selfs Kampsbaai, met die Bolandse berge in die agtergrond.
Na ‘n steil stukkie klim en
natgesweet, het ons lafenis in die skaduwee gesoek vir teetyd.
Hierna volg die opwindende deel waar ‘n mens vir omtrent 500 m verbyskuur agter ‘n rotswand wat weggebreek het van die berg. Hier voel jy klein, want dit voel of jy letterlik in die berg se maag klouter. Aan die einde van die skeur kom ‘n mens omtrent onder die kabels van die kabelkarretjie uit.
Op ‘n stadium klim ons af teen ‘n
rotslysie en Erica is aan die onderkant. Sy skree en Christo dink sy
skrik vir ‘n slang. Hy probeer so gou
moontlik ondertoe te klim en weer skree Erica. Toe was daar nooit ‘n
slang nie, maar elke keer Christo wat op Erica se vingers trap! Jammer
Erica!
Met ‘n vroeë middagete ontspan ons
in die skadu van Fountain Ledge. Hiervandaan is daar ‘n mooi uitsig oor
Kampsbaai en die Twaalf Apostels. Die pad terug is af in Platteklip en te
gou is alles oor en ons is terug by die motors.
CHRISTO DIPPENAAR
DIE AFDELING SE 25 JARIGE VERJAARDAGFEES
Die klub
se 25 Jarige bestaan is herdenk tydens ‘n lekker fesie gehou by Beaverlac in die Groot Winterhoekberge
die naweek van 20-21 November 2004. Die
party het sommer die Vrydagaand
al begin toe meeste van die feesgangers al ingetrek het. Tente is opgeslaan en’n lekker groot
kuiervuur is aangesteek.
Die
Saterdag is daar 2 stappe gereël, ‘n
korte vir die luies, vakes en nuwes, en ‘n langer stap vir gewone lede. Albei stappe is goed bygewoon en was volgens
oorlewering heel plesierig. (die
skrywer was olik) Party was pienk ook, van die son. Sommige het eenvoudig luilekker rondgehang of in die heerlike
rotspoele gaan plas.
Die hoofffees
was eintlik Saterdagaand: Stoele is
uitgepak in laer- of kerkformasie en ‘n paar lekker vure is opgesteek. Johan Botha (Voorsitter) het ‘n kort
praatjie (hy wil dit nie ‘n toespraak noem nie) gelewer. ‘n Paar ouer lede het stories vertel. Veral Neil (Divvie) de Villiers het ‘n paar
lagtrane laat rol met sy tipiese stories.
Erna (in Gerrit se afwesigheid) het self ‘n paar lekker stories
uitgekrap en Tonie Roux (al die pad van Worcester) het ons vermaak (en
ingelig) met stories van stigtingsdae
van die klub.
Die aand
het lekker verloop. So teen die laatnag
het Sandra (Lombard) ons verras met ‘n heerlike soet verrassing: koek en roomys (jou punte styg Sandra!).
Dit was ‘n bees van ‘n fees en as
die 25 so lekker was; hoe lekker gaan die 50 nie wees nie!
Altus de Wet
Shackleton Valley 27-28 November
2004
Die plek
en die storie van die ongelukkige vliegtuig het my nog altyd gekielie. En omtrent op die dag; 5 jaar later het ons
weer die stap gaan doen. Net ek ek, Charlie en Cobus. En Andries was ons logistiekbestuurder (m.a.w. hy het ons by
Stetteynskloof gaan aflaai)
Ons het
die Vrydagaand gaan kamp ons Stetteynskloofdam se damwal; dis so 15km van
Rawsonville, in die hart van die Du Toitsberge (kyk maar self op ‘n
kaart). Lekker geslaap op die sagte
groen gras, na ‘n lekker braaitjie en versnaperinge. Andries het ook nie kans gesien vir terugry op die smal grond-pas
nie en het (in geleende klere) in sy kar geslaap.
Saterdagoggend
het ons vroegerig in die pad geval:
eers net op teen die damwal; dan al langs die noordelike oewer van die
dam in die rigitng van Elandskloof.
Baie mooi, MAAR, baie dig toegegroei.
Ons skat dit het vyf jaar laas gebrand; kort voor ons vorige trip. Veral in die waterlope is die boskasies byna ondeurdringbaar hoog
en dig. Mens is skoon sat as jy weer
anderkant “surface” En dit was warm.
Middag-ete
het ons “by waters waar rus (en koelte) is” deurgebring; langs ‘n stroompie in
die skadu van ‘n Withoutboom.
Salig.
Maar sodra
mens uit die klofie uitklim en in die klam hitte deur die bosse stoei, is die
koelte gou vergete. Ons moet
voort. Die plan is om aan die bo-punt
van die kloof te kamp (en nie oor te klim na die Elandskloof vallei nie).
Ons hou
ons oë oop vir die oorblyselfs van die Shackleton wrak. Ek was heel opgewonde toe ons eers net deel
van ‘n vlerk opspoor. Ons soek verder. ‘n Goeie 500m verder lê die grootste deel
van die wrak in ‘n klofie. Dit lyk asof
die vliegtuig teen ‘n nek gebots en toe in die klofie afgeskuif het (teen
spoed!). Dis spookagtig om tussen die
stukke rond te snuffel: die skroewe; ‘n paar vensters, dele van die
enjins, rubberpype (nog sag), verbrande elektriese drade en selfs stukke
seil. Was dit sitplekke?
Die
vliegtuig het op 8 Augustus 1963 in uiters swak weer hier neergestort. Die vlieënier het blykbaar onder die wolke
probeer deurvlieg, ‘n navigasiefout begaan en die rots-nekkie getref.
Al 14
mense aan boord is op slag dood. Net
daar. Die vliegtuig was op pad na ‘n
lugskou in PE. Daardie dae was dit nog
nuut en ‘n vertoonstuk (dis in 1957) gebou.
‘n Klein gedenkplaat merk die ongelukkige plek.
Mens stap
in stilte verder. Ons kom nader die
einde van die kloof en die son trek water.
Ek bemerk ‘n platterige deel en oortuig Charlie om kamp op te slaan (was
nie baie moeilik nie!) Van ons
kampplek het ons ‘n praguitsig op Pinnacle Kloof. ‘n Pragtige massiewe rotsvinger wat die
ingang na die kloof merk. Dis blykbaar
‘n heel gangbare roete na bo.
Die
laatmiddag en aand is pragtig as die son die kranse en en rotsvinger rooi
inkleur. En dan die sterre.
Sondagoggend
vat ons dit rustig. Die voetpad is
naby, maar dan nog nie (nare) jeeppad.
Ons kies ‘n skuins roete teen die laaste nek uit. Van bo kyk mens and na Elandskloof (wes) en
Stetteynskloof (Holsloot) (oos). Onder in die Elandskloof vallei doen ons eers
‘n lekker swem in ‘n bergpoel, by een van Charlie se ou kampplekke. Dan slaan ons die voetpad en later die
jeeppad op pad terug na ons kar by Du Toitskloof Hut.
Elf
kilometer later is my Golf darem nog daar.
In die lekker skadu van die groot bome by die hut, eet ons ons laaste
broodjies op, rus bietjie, kry geen bier van die Kaapse lede wat daar werk nie
en ry huis toe.
Altus de
Wet